’n Woordvoerder vir die Skukuza-polisie, ao. Oubaas Coetzer, het gesê Jacques van der Sandt is aangeval nadat hy en ’n vriend in die Panic-meer gaan swem het. Hy het blykbaar by sy ouers gaan kuier, wat in Skukuza met vakansie is en het Woensdag aan ’n gholftoernooi deelgeneem.

Hy is Woensdagaand omstreeks elfuur deur die krokodil – wat glo amper 4 m lank is – aangeval en in die water gesleep.

’n Veldwagter het sy lyk met bytmerke op die borskas ontdek. Hy het ook die krokodil gesien en geskiet.

Ao. Coetzer het gesê Jacques het by ’n brug by die Skukuza-gholfklub se negende putjie in die water geklim; dit is die bekendste putjie en strek ook die meer.

Hy was saam met ander spelers by die klubhuis toe hy besluit om te gaan swem.

Die krokodil is blykbaar vroeër daardie dag in die meer gesien.

SAPA