’n Beloning van R1 miljoen word aangebied vir inligting oor ’n gewapende rooftog in Kaapstad waartydens een sekuriteitswag dood en nog een beseer is, het die kontant-transito-maatskappy SBV Services Sondag gesê.

[caption id="attachment_158143" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: Wikimedia Foto ter illustrasie. Foto: Wikimedia[/caption]

Die wagte was Saterdagoggend besig ’n OTM in Athlone te diens toe hulle aangeval is.

Die Wes-Kaapse polisie sê vyf gewapende verdagtes het na die aanval op die hoek van Klipfontein- en Carnie-weg weggekom met ’n onbekende bedrag geld.

Sers. Noloyiso Rwexana het gesê die polisie werk onverpoosd aan die saak.

“Ek’s uiters hartseer dat een van ons werknemers sy lewe tydens die aanval verloor het, en dat nog ’n werknemer in ’n kritieke toestand is,” het Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV, gesê.

Hy het sy meegevoel uitgespreek met die familie van die oorledene en het sy kollega ’n vinnige herstel toegewens.

“Ek wil ook ons span loof vir hul dapperheid tydens hierdie gewelddadige aanval.”

Mark sê hy is geskok oor die voortslepende gewelddadige aanvalle teen mense in die bedryf.

Die beloning is vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en skuldigbevinding van die oortreders.

Die publiek kan inligting na die SBV Early Warning Robbery-blitslyn by 083-408-7029 stuur, asook aan die SAPS gee by 10111.

Bron: News24