FOTO: Gallo Images/ Foto24 / Theana Breugem So lyk die wrak van die Toyota Fortuner waarin Kurt Darren 'n passasier was. KLIK HIER vir meer foto's. (FOTO: Gallo Images/ Foto24 / Theana Breugem)

Dit gaan vandag baie beter met die Afrikaanse sanger Kurt Darren en sy twee vriende wat Saterdagaand saam met hom in ’n ernstige motorongeluk was.

Boonop het die breinskandering wat Kurt gister ondergaan het, gewys daar is niks fout nie, sê sy broer, Darren van Heerden.

Daar was vrese dat hy skeel kon wees omdat sy oë skeel trek en hy dubbel sien. “Die skeelheid sal mettertyd regkom. Dis net die skok van die ongeluk. Hy is nog ’n klein bietjie skeel en sien nog dubbel, maar dit sal herstel,” verduidelik Darren. “Die breinskandering wys alles funksioneer 100 persent.”

Kurt word nog in die waakeenheid van die Millpark-hospitaal in Johannesburg behandel nadat hy agt ribbebene gebreek het. Darren sê sy broer het nog pyn, maar “vandag is sy beste dag nog”.

Marnus Bisschoff het die voertuig bestuur waarin Kurt en Nadia van Rensburg, Marnus se assistent, ook was toe die ongeluk gebeur. Hy het gesê vandag gaan dit ook beter met hom. Hy word in die waakeenheid van die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria behandel. Sy laerug is beseer en sy gesig is vreeslik geswel. Hy sê die pyn is nog daar, maar dit is nie meer so erg nie. Sy lyf begin net nou ’n bietjie styf raak.

Volgens Marnus sal Nadia moontlik vandag uit die Steve Biko-akademiese hospitaal ontslaan word. Sy het haar regterbeen gebreek. Die drie vriende was Saterdagaand kort ná 23:00 in ’n ongeluk toe Marnus op die Kameelfontein-pad, noord van Pretoria, vir ’n aankomende voertuig uitswaai en die voertuig in ’n rivierbedding beland. Kurt se vrou, Dunay Nortjé, sal na verwagting môre in Johannesburg aankom om haar man by te staan, het Louis van Wyk, Kurt se bestuurder, gesê. Ten tyde van die ongeluk was sy saam met haar ma en tannie op ’n bootreis in die Mediterreense See. luk.

- Hilda Fourie Besoek ook: Foto's van Kurt se ongeluk Foto's van Kurt Darren Foto's van Kurt en Dunay se troudag