Natuurlik kan jy saam met jou kinders gaan uiteet. Dit verg heel moontlik net ’n bietjie meer beplanning as toe jy en jou maat nog alleen was. Hier is ’n paar lekker wenke.

Kies die regte restaurant

Al is party ketting-restaurante bekend vir hul gesinsvriendelike styl, is dit nie jou enigste opsie wanneer jy saam met jou kinders wil gaan uiteet nie. Doen vooraf ’n bietjie navorsing: Webtuistes soos eatout.co.za plaas gereeld lyste van kinder-vriendelike restaurante wat moeite doen om gesinne te laat welkom voel. Kyk gerus hier vir so ’n lys.

’n Restaurant hoef nie ’n ingeboude vermaak-area vir die kleingoed te hê nie; enige eetplek met ’n buite-area wat verken kan word, kan goed werk.

As jy ’n nuwe restaurant wil uittoets, maak liefs eers seker hoe welkom jou kinders gaan wees. Bel die restaurant vooraf en vra. Die ergste wat kan gebeur, is dat hulle jou aanbeveel om eerder êrens anders te eet. Dit gaan jou aand heelwat lekkerder maak as jy nie die hele tyd hoef te wonder of die bestuurders en kelners jou en jou kinders stilletjies verwens nie.

Kies die regte tyd

Moenie jou kind se roetine ontwrig nie. As hy gewoonlik teen seweuur huilerig raak omdat hy moeg is, moenie verwag dat dit in ’n restaurant anders gaan wees nie. Probeer ’n uitstappie by sy gewone roetine inpas.

Berei jou kind voor

Om in ’n restaurant te eet is dalk nie meer vir jou ’n nuwe ervaring nie, maar vir kleintjies wat gewoond is aan by die huis eet, kan dit heeltemal vreemd wees. Verduidelik vooraf vir jou kind hoe ’n  restaurant werk. Sê julle gaan tussen ’n paar opsies moet besluit, verduidelik wat die kelner se werk is en verduidelik dat die kombuis dan eers die kos gaan berei voor julle kan eet. Laat dit opwindend klink, dit verhoed dat kinders gefrustreerd raak omdat hulle nie die proses verstaan nie. Praat ook vooraf oor tafelmaniere en bespreek watter gedrag by ’n restaurant aanvaarbaar is.

Wees self voorbereid!

Die sleutel tot goeie gedrag van jou kinders is om te sorg dat hulle nie verveeld raak of aandag soek nie. Pak ’n paar speelgoed, lees- of inkleurboeke in om hulle besig te hou as die wagtyd lank word. Bekende speelgoed sal ’n onbekende omgewing meer verwelkomend laat voel. Gee genoeg aandag aan jou kinders sodat hulle dit nie met ’n uitbarsting of stout gedrag hoef te soek nie.

’n Restaurant-bestuurder gee raad

Ken Davidson, die bestuurder van die Riverplace-landgoed by die Hennopsrivier, wat ’n kinder-vriendelike restaurant het, sê dis baie belangrik dat kinders pret het. “Kinders is immers net een keer jonk. Stoutwees is aanvaarbaar, solank dit nie onaangenaam is nie.”

Watter wenke wil restaurantbestuurders en kelners graag aan alle ouers oordra? “Kinders behoort toegelaat te word om rond te hardloop en te speel, maar nie met die restaurant se dekor, meubels, eetgerei en glase nie!” sê Ken.

Allen Barnley, bestuurder van die Blowfish-restaurant in Bloubergstrand (Kaapstad), het die volgende raad vir ouers: “Baie ouers verstaan nie dat restaurante soos masjiene is nie, met baie bewegende en gevaarlike dele. Die kelners, warm skinkborde, skinkborde met drankies, vloeistof wat gemors is en glas wat breek skep nie regtig ‘n veilige omgewing vir kinders nie.”

Ken voeg by: “Die restaurant moet sekere grense daarstel, maar die ouers moet dit afdwing en seker maak kinders weet wat dit is.” Vind dus vooraf uit wat vir ’n restaurant aanvaarbaar is. Hy beveel ook aan dat ouers ’n kind wat stout was of ’n woedeuitbarsting gehad het uit die restaurant neem tot hy  weer kalm is. “Ouers is verantwoordelik vir hoe hul kinders optree. Om jou kind te straf of in die verleentheid te stel voor ander mense is ’n groot taboe.”

Wat bestel ek?

Saskia Zietsman, ’n dieetkundige en eienaar van dialadietician.co.za, beveel aan dat ma’s vooraf uitvind hoe ’n restaurant se spyskaart lyk, sodat jy kan weet of dit kinders akkommodeer. Sy gee die volgende raad oor wat om vir jou kinders te bestel:

  • Daar is geen reël wat sê ’n kind moet van die kinderspyskaart af bestel nie. “Die opsies op dié spyskaart is dikwels baie beperk. Baie van die opsies, soos Weense worsies, hoenderhappies, skyfies en geroosterde toebroodjies is nie net vervelig nie, maar ook ongesond, want dit bevat baie vet, suiker en sout.”
  • Hou ook die voorgereg-spyskaart in gedagte as jy opsies vir jou kind soek. “Die porsiegroottes is geskikter vir kinders en bied ’n groter verskeidenheid.”
  • Kies ’n restaurant wat skinkbordetes (platters) op die spyskaart het. “Kinders kan help besluit vir watter een hulle lus is. En kinders wat vol fiemies is, kan self besluit waaraan hulle wil peusel. Uit ’n gesondheidsperspektief is dit natuurlik beter om een te kies wat nie net uit diepgebraaide kosse (soos samoosas en slaptjips) bestaan nie. Kaas, ham, tamaties, broodjies, smeer of patee, seekos en hoenderrepies is goeie opsies.”
  • Bou ’n pizza! “Die meeste kinders is lief vir pizza. Vind vooraf uit of jou kinders hul eie pizzas kan bou deur self die bestanddele te kies. Maar moedig hulle dan aan om darem iets vars ook te kies, soos tamaties, sampioene of soetrissies.”
  • Pasta is altyd gewild. “Die meeste restaurante het ’n verskeidenheid pastas op hul spyskaart. Vind uit of die restaurant bereid is om ’n halwe porsie vir jou kinders te berei, of as jy twee kinders het, laat hulle ’n volle porsie deel.”

As ’n restaurant nie ’n opsie is nie

Jy het dalk ’n nagmerrie-ervaring of drie in ’n restaurant gehad, maar dit beteken nie dat ’n eet-uitstappie jul gesin nie beskore is nie.  Saskia gee raad: “As dit net eenvoudig onmoontlik is om met jou kinders na ’n restaurant te gaan, besluit om eerder as ’n gesin te gaan piekniek hou. Laat die kinders dan insette lewer tot wat in die piekniekmandjie gepak moet word.”

- Suzaan Hauman

 ctx0417_2725_eastercampaign_600x450_digitorial_huisegenoot