Meer as 500 van die renosters wat in 2013 van kant gemaak is, is in die Nasionale Krugerwildtuin geskiet.

Die tempo waarteen renosters in Suid-Afrika gestroop word, neem tans met sowat 50 persent per jaar toe. In 2007 is slegs 13 renosters gestroop.

Teen dié koers sal die aantal sterftes die jaarlikse geboortesyfer van renosters voor die einde van die dekade verbysteek. Daar is sowat 18 000 witrenosters en 4 000 swartrenosters oor in Suid-Afrika, waarvan sowat die helfte in die Krugerwildtuin voorkom.

Hierdie skokkende statistiek oor renosterstropery is ten spyte van pogings deur die regering om dié tendens hok te slaan. Die tesourie het onlangs R75 miljoen beskikbaar gestel vir die bekamping van renosterstropery.

Dié pogings het onlangs sukses behaal toe die Valke einde verlede maand op ’n vrag ivoor- en renosterhorings van sowat R23 miljoen beslag gelê het. Die is die eerste vrag van sy soort wat suksesvol nagespoor en na Suid-Afrika teruggebring is.

Kol. Johan Jooste van die Valke het gesê dit het sowat ’n jaar geduur om die items op te spoor wat onder meer 33 renosterhorings ingesluit het.

Meer as 300 mense is reeds vanjaar in hegtenis geneem in verband met renosterstropery.

’n Vermeende renosterstroper is die afgelope naweek in die Krugerwildtuin doodgeskiet. Hy was een van drie mans wat Saterdagoggend daar voorgekeer is. Die ander twee verdagtes is in hegtenis geneem, en die polisie het beslag gelê op ’n jaggeweer en ander jagtoerusting wat in die mans se besit was.

SANParke het verlede week nog ’n hupstoot in hul pogings teen renosterstropery gekry toe die Ichikowitz-familiestigting ’n militêre helikopter aan die Krugerwildtuin geskenk het.

“Ons hoop die Gazelle sal help om die geveg teen renosterstropery in 2014 ’n keerpunt te laat bereik,” het die stigting se voorsitter, Ivor Ichikowitz, gesê.

Shané Barnard

BRONNE: Sapa, theguardian.com, mg.co.za, ewt.org.za