Die horings – wat hoog aangeskryf word in party tradisionele medisynes – is die naweek uit die Mpumalanga Toerisme-en-Parke-agentskap (MTPA) se kluise gesteel, het die koerant Lowvelder berig.

“Die skuldige of skuldiges het twee staalkluise met dubbelslotte opgesny,” sê ’n bron van die agentskap.

Dex Kotze, ’n bewaarder en die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse juwelier Jenna Clifford, wat ’n veldtog teen renosterstroping steun, sê die gesteelde horings kan tot R168 miljoen werd wees.

Nie die MTPA of die polisie kon Maandag, ’n openbare vakansiedag in Suid-Afrika, bereik word nie.

Stroping van Suid-Afrikaanse renosters is aan die toeneem. Meer as 270 is al vanjaar doodgemaak, amper die helfte daarvan in die Kruger-park, ten spyte van die ontplooiing van troepe om hulle te beskerm.

Die horings is gesog in dele van Asië, veral in Viëtnam, waar dit in tradisionele medisyne gebruik word. En dit ten spyte daarvan dat die horings, nes menslike vingernaels, uit keratien bestaan.

Stropers val dikwels renosters met semi-outomatiese gewere aan, kap hul horing af en laat die dier gewond of dood.

Suid-Afrika is die tuiste van bykans 20 000 renosters, wat sowat 70 tot 80 persent van die wêreld se totale renosterbevolking uitmaak.

Die onwettige jag van die diere in Suid-Afrikaanse parke duur voort ondanks lug- en voetpatrollies en groter getalle bewaarders bygestaan deur soldate. - Sapa