HY BOER eintlik op twee plekke.

Daar’s die spogplaas met wyndruiwe, olywe en ’n Angus-stoetery – en dan is daar sy stylvol gemeubileerde kombuis.

Dis hier waar Renier Theron (39), plaasbestuurder van Simondium in die Boland, alles van braaiboud tot ontbeende varknek en malvapoeding optower.

En as alles goed verloop, staan een van vyf pragtige aspirantboervroue een van die dae hier langs hom en aartappels skil.

Hy het nogal sleg gevoel toe hy ná so ’n vlugtige ontmoeting in Kaapstad vyf van die 10 aspirantboervroue van sy keuse weer huis toe moes stuur, bely dié oudste van die boere in die derde seisoen van Boer Soek ’n Vrou.

‘‘Dit was lekker om die vroue agter die briewe te ontmoet, maar nie maklik om te kies nie. Ek moes in gedagte hou dat party mense hulself nie goed in briewe uitdruk nie, en ek wou niemand te maklik uitskakel wat dalk ’n goeie keuse sou wees nie.

“Ek het mense gekies met wie ek gevoel het ek sou lekker gesels en wat ook goed met mekaar oor die weg sou kom,”  sê hy oor sy topvyf meisies: Cisca Deysel (27), ’n entrepreneur van Pretoria, Angelene Smit (36), ’n finansiële bestuurder van Randburg, Christine Vos (24), ’n onderwyser van Gordonsbaai, Ilze Kruger (25), ’n vensterversierder van Pretoria, en Mari le Roux (33), ’n administratiewe klerk van Upington.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 7 Oktober 2010