Reinach Tiedt, een van die Waterkloof-vier, sou sy paroolvoorwaardes oortree het as hy onder die invloed bestuur het toe hy vroeër vandeesweek in ’n ongeluk betrokke was, het die Demokratiese Alliansie (DA) Vrydag gesê.

“Daar word beweer dat Reinach Tiedt, een van die Waterkloof-vier, verantwoordelik was vir ’n motorongeluk in Pretoria, waarin ’n vrou en haar twee kinders ernstig beseer is,” het ’n DA-woordvoerder, James Selfe, in ’n verklaring gesê.

“Verslae dui daarop dat Reinach tydens die ongeluk onder die invloed van drank was. Dis duidelik ’n oortreding van sy paroolvoorwaardes en is beslis ’n rede om dit terug te trek.”

Gauteng se kommissaris van korrektiewe dienste, Zacharia Modise, het bevestig Reinach was by die ongeluk betrokke. ’n Woordvoerder vir die departement, Manelisi Wolela, kon nog nie bevestig of hy sy paroolvoorwaardes oortree het nie.

Die ongeluk het Dinsdagmiddag op die hoek van Rubenstein- en Peddiestraat in Pretoria gebeur, het ao. Dave Miller gesê. ’n Saak van nalatige of roekelose bestuur is aanhangig gemaak.

In Februarie is Reinach, Christoff Becker, Frikkie du Preez en Gert van Schalkwyk vrygelaat nadat hulle in 2001 ’n hawelose man in Pretoria doodgeslaan het.

Op 16 Februarie is Christoff en Frikkie opnuut in hegtenis geneem nadat ’n selfoonvideo uitgereik is waarin dit blyk die twee drink alkohol en gebruik ’n selfoon in hul sel in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria.

Gert en Reinach is op parool vrygelaat. James het gesê parool is ’n voorreg, en dié wat dit misbruik, moet vasgevat word.

“Ons gaan die ondersoek fyn dophou en alles in ons vermoë doen om te verseker dit gebeur,” het hy gesê.

Beeld het berig van ’n getuie wat sê Reinach het beheer oor sy motor verloor en ’n ander motor getref. Die drie insittendes is hospitaal toe gebring; die vrou is kritiek beseer, terwyl die twee seuntjies ligte beserings opgedoen het.

Die dagblad het ’n foto gepubliseer wat iemand op die toneel geneem het; daar was bierblikkies wat glo uit Reinach se motor geval het. Party was oop en ander was toe.

Volgens Dave bevat die dossier niks or dronkbestuur nie en het gewaarsku mense moenie aannames maak nie. Reinach is nie in hegtenis geneem nie.

Manelisi het gesê die departement is Donderdagaand van die ongeluk in kennis gestel.

“Ooreenkomstig met ons beleid oor die bestuur van geparoleerdes gaan beamptes die verslae nagaan, en ook inligting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en hospitale inwin en ’n verslag by die departement indien.”

Afhangend van die bevindinge kan die verslag aan die korrektiewetoesig-en-paroolraad vir oorweging en ’n besluit voorgelê word.

- SAPA