Raulinga het Donderdag in die Limpopo-hooggeregshof in Thohoyandou gesê selfs al lê Rameez op ’n draagbaar, sal die saak voortgaan. Die beskuldigde is ook aangesê om ’n doktersbrief in te dien as hy wou hê die verhoor moet uitgestel word.

Tydens vandag se verrigtinge het Rameez glo ’n skeelhoofpyn ontwikkel en is hy na die dokter geneem vir ’n inspuiting. Raulinga het beslis die saak gaan voort.

Dit is die derde dag waarop uitstel gevra word.

Rameez beweer hy ly aan emosionele spanning. Terselfdertyd baklei hy kliphard teen ’n aansoek deur die staat om hom vir psigiatriese waarneming te stuur.

Woensdag het sy prokureur, Tumi Mokoena, die sielkundige Stephen Molepo geroep om te getuig. Stephen het bevestig Rameez ly aan emosionele spanning.

Ten spyte daarvan dat hy aanbeveel het dat Rameez verder geëvalueer moet word, het hy die staat se aansoek om hom na die Thabamoopo Psigiatriese Hospitaal te verwys .

Stephen het aangedui hy wil hê Rameez moet dinge oordink en rus, waarna hy vir langer as ses weke met hom sal konsulteer.

In teenstelling met die sielkundige se vertoë het Rameez Dinsdag aan die hof gesê hy kan wel die verhoor volg.

Mashudu Mudau, die staatsaanklaer, het aangevoer die verhoor kan in gedrang gebring word as Rameez nie vir psigiatriese waarneming gestuur word nie.

Die moord

Op 10 April 2015 is Fatima Patel (28) van Nirvana, Polokwane, in haar huis vermoor.

Sy is eers met ’n stomp voorwerp, vermoedelik ’n krieketkolf, geslaan en toe met soveel geweld verwurg dat haar tongbeen gebreek het. Daarna is sy van naby met ’n pistool in die gesig geskiet.

Haar skedel en wangbene was versplinter en haar kakebeen ontwrig. Volgens die patoloog, dr. Arnold Mamashila, was Fatima se beserings so erg dat sy waarskynlik daaraan sou sterf nog voor sy in die gesig geskiet is.

Fatima se drie kinders was ten tyde van haar dood agt jaar, vier jaar en vier maande oud.

Bykomende bron: news24.com