’n Regter het beveel die drie sibbes moet tot hul 18de verjaardag opgesluit bly omdat hulle ’n hofbevel rakende toesig verbreek het.

Lisa Gorcyca, regter van die Oakland-distrikshof, sê die kinders – 15, 10 en 9 jaar oud – mag hul pa sien terwyl hulle in die Children’s Village aangehou word, maar hulle mag nie kontak hê met hul ma nie.

Sy het ook beveel hulle moet “soveel moontlik van mekaar weggehou word”.

Hoftranskripsies wat deur Fox 2 News gepubliseer is, toon regter Gorcyca het die kinders met Charles Manson en sy kultus vergelyk en dat hulle na bewering gebreinspoel is.

Sy het na bewering aan hulle gesê as hulle nie hul pa, Omer Tsimhoni, verskoning vra en saam met hom gaan middagete eet nie, hulle in afsonderlike selle sal bly waar hulle voor ander mense toilet toe sal moet gaan.

Toe die kinders weier, het sy hulle skuldig bevind aan burgerlike minagting en die drie na ’n aanhoudingsentrum vir jeugdiges gestuur.

Die hofbevel, wat op 24 Junie uitgereik is, spruit uit ’n egskeidingsaak wat in 2009 begin het.

Die kinders se ma, Maya Tsimhoni, het aan Fox 2 News gesê: “Ek was so geskok, ek kon nie glo ek was daar nie.”

Gorcyca het by die verhoor in Pontiac aan die gesin gesê dit is een van die ergste gevalle van “ouerlike vervreemding” wat sy tot nog toe ooit teëgekom het.

Bronne: news.com.au, themirror.co.uk