’n Mediaregkenner het Dinsdag in ’n TV-onderhoud gesê regt. Thokozile Masipa het “te ver gegaan” toe sy die media verbied om inligting oor Reeva Steenkamp se nadoodse ondersoek regstreeks te twiet.

'Na my mening is dit ’n besluit wat, met respek gesê, effe te ver gegaan het.'

“Na my mening is dit ’n besluit wat, met respek gesê, effe te ver gegaan het omdat dit die rol van Twitter as ’n hulpmiddel vir joernaliste misverstaan,” het Dario Milo van Webber Wentzel gesê.

“Ek het nog nooit gehoor van ’n getuie wat so ’n uitspraak maak nie (dat die bevindinge nie uitgesaai moet word nie); daar is nie ’n groot verskil tussen inligting wat regstreeks getwiet word en inligting wat ’n kwartier of wat later deur die joernalis berig word nie.”

Prof. Gert Saayman het Maandag beswaar gemaak daarteen dat sy bevindinge regstreeks uitgesaai word. Hy het aangevoer dat hy onderworpe is aan sekere etiese reëls, en dat daar dalk statutêre beperkings op sy optrede is. Hy het gesê dat hy ongemaklik sou wees met ’n regstreekse uitsending van sy getuienis.

“Ek dink die uiters persoonlike aard van die bevindinge in ’n nadoodse ondersoek, tesame met die grafiese besonderhede, kan die oorledene se waardigheid aantas. Ek glo dit is ons plig om die oorledene se waardigheid te behou,” het hy gesê.

Die regter het beveel dat daar geen regstreekse uitsending, twiets of blogs sou wees nie.

Volgens Dario is die sleutelaspek van die bevel dat die media die nadoodse ondersoek se bevindinge met sorg moet hanteer ten einde die oorledene se familie te respekteer en te strook met die media se etiese kode.

The Morning Show het ook woordelikse weergawes van die getuienis in Dinsdag se koerante bespreek.

“(Die aanklaer) Gerrie Nel het daarop aangedring dat Gert se getuienis nie woordeliks aangehaal word nie. Hy het nie ’n probleem daarmee gehad dat dit omskryf om opgesom word nie,” het Dario gesê. “Die media moet versigtig wees om nie hierdie spesifieke getuie woordeliks aan te haal nie. Die media moet liefs versigtig wees in hierdie geval.”

'Ander hofsake wat met moord of ander geweldmisdaad te doen het, sal altyd sulke grafiese getuienis hê.'

Volgens Dario is hierdie saak anders omdat dit so ’n hoëprofielsaak is. “Ander hofsake wat met moord of ander geweldmisdaad te doen het, sal altyd sulke grafiese getuienis hê.

“Dit is so ’n hoëprofielsaak; die kwessie oor hoe die media daaroor kan berig, moet nou vir die eerste keer kaalvuis aangepak word.”

Die regskenner Pierre de Vos het Maandag gesê die verbod klink onafdwingbaar.

“Ek het nog nie die hele bevel gehoor nie, maar dit wat ek wel gehoor het, klink verwarrend,” het hy aan Sapa gesê.

“Dit klink onafdwingbaar. Ek was nie daar om (die regter) se presiese woorde te hoor nie, maar mense en joernaliste word in ander hofsake toegelaat om Twitter te gebruik, so ek weet nie wat hierdie saak so spesiaal maak nie.”

Oscar staan tereg vir die moord op Reeva, wat op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis in Pretoria geskiet is. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die vuurwapenwet oortree het.

Hy het skuld ontken op alle aanklagte. Hy sê hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien.