Uitspraak word Woensdag verwag in die Pretoriase hooggeregshof, waar die sterwende Bokheld Joost van der Westhuizen in ’n dringende hofaansoek die Getrouheidsfonds vir Prokureurs die stryd aansê om meer as R385 000 te verhaal wat vermoedelik deur sy vermoorde sakevennoot en prokureur Robert Klinkenberg verduister is. Joost se aansoek kom nadat dié Roodepoortse prokureur op 3 Desember verlede jaar onder raaiselagtige omstandighede dood is. Joost het die geld aan die direkteur van Klinkenberg Incorporated toevertrou om dit in ’n trust te bewaar sodat hy makliker toegang daartoe toe kon kry vir sy mediese uitgawes. Joost moet nou dag en nag versorg word. Hy ly sedert 2011 aan die ongeneeslike motorneuronsiekte en hoewel daar niks met sy verstand skort nie, is hy aan ’n rolstoel gekluister en moet sy versorger hom help elke keer wanneer hy moet sluk omdat sy nekspiere te swak is om sy kop op te lig. Netwerk24 het Dinsdag vanuit die hof getwiet die regter het bevind Joost se aansoek is inderdaad ’n “saak van lewe en dood” en dus dringend, soos Joost se regspan aanvoer.

Die Getrouheidsfonds betwis Joost se bewering dat Klinkenberg die oudrugbyspeler se geld gesteel het. Dié fonds, wat soos ’n versekeraar vir prokureurs optree, voer aan Joost moes eerder van Klinkenberg se boedel geëis het.

Lees ook: Joost van der Westhuizen se prokureur vermoor

Die hof het Dinsdag gehoor daar is ’n tekort van tot R200 miljoen in die trust. Die Getrouheidsfonds het vroeër vanjaar Joost se eis afgekeur omdat hy geen misdaad kon bewys nie.

Joost se regspan het aangevoer die Getrouheidsfonds is aanspreeklik as ’n prokureur ’n kliënt se geld wanbestee.

Die hof het gehoor Robert het sy eie lewe geneem, maar die polisie het vroeër aan Huisgenoot bevestig die 46-jarige prokureur is nié dood weens selfdood nie; hy is vermoor.

Robert se lyk is op 3 Desember met ’n enkele skietwond aan sy kop sowat 6 m van sy Porsche in die veld langs die pad by Magaliesburg aan die verre Wes-Rand gevind.

“Niks is van die slagoffer geneem nie; daarom was selfdood aanvanklik die logiese gevolgtrekking,” het kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder van die Randfontein-polisiekantoor, bevestig. ’n Lykskouing het egter die teendeel bevind.

Die moord word steeds ondersoek, maar geen verdagte is nog in hegtenis geneem nie.

Intussen het die Getrouheidsfonds meer as 118 eise ter waarde van meer as R40 miljoen van voormalige kliënte van Robert ontvang. Minstens R24 miljoen is reeds uitbetaal, het Rapport vroeër berig.