Regt. Thokozile Masipa het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria beveel dat polisiebeamptes verduidelik hoe ’n verlengingskoord uit die moordbeskuldigde Oscar Pistorius se huis verdwyn het.

Die koord het verdwyn uit die huis waar Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar geskiet het. Dit verskyn op polisiefoto’s van die moordtoneel. Oscar staan tereg weens Reeva se moord.

“Die huis was gesluit en daar was geen inbraak. Dit kan nie loop nie. Dit gaan nie mnr. Barry Roux help nie, maar dit gaan my help omdat ek baie ongelukkig is hieroor,” het regt. Masipa gesê.

Barry, vir Oscar, het die hof vertel die verdediging het vergeefs die koord van die staat probeer kry.

Die aanklaer, Gerrie Nel, het gesê ná intensiewe soektogte was die koord steeds vermis. Hy het gesê dit is onmoontlik om die koord te gaan soek, want die huis is reeds verkoop.

Hy het gesê die koord was nie op was nie op inventaris van items wat die polisie van Oscar se huis gevat het nie.

“Ja, dit was in die huis, soos op die foto’s sigbaar is. Dit was op 14 en 15 Februarie nie in dieselfde posisie nie. Waar dit is en of iemand dit gevat het, kan ek nie sê nie,” het Gerrie gesê.

“Ek antwoord namens die polisie. Ek staan hier saam met die ondersoekbeampte.”

Regt. Masipa het beveel dat die beamptes wat die misdaadtoneel verseël het, beëdigde verklarings oor die koord indien.

Verder het Barry Ivan Lin geroep, ’n akoestiek- en elektro-akoestiek-ingenieur, om vir die verdediging te getuig.

Hy het gesê sy tegniese getuienis sal fokus op of iemand akkuraat sou kon onderskei of dit die gil van ’n man of ’n vrou is.

Getuies vir die staat het getuig dat hulle in die vroeë oggendure van 14 Februarie verlede jaar ’n vrou in Oscar se huis hoor gil het.

Oscar se verdediging beweer Oscar skree soos ’n vrou wanneer hy beangs is.

- Sapa