Dis weer sulke tyd: Vandag (Vrydag) word die nuwe plaaslike misdaadsyfers bekendgemaak en gaan die land hoor of skelms die laaste jaar meer of minder aan die pen gery het as in vorige jare.

Verlede jaar is altesaam 2 206 miljoen misdade gepleeg, effens meer as die 2 204 wat in 2014 aangeteken is. Die nasionale minister van polisie, Nathi Nhleko, gaan die aankondiging by die parlement in Kaapstad maak.

“Jaar ná jaar moet doodgewone Suid-Afrikaners sien hoe veral kontakmisdaad (soos moord, verkragting en aanranding) toeneem sonder dat die nasionale regering enige werklike planne het om dié kwessie aan te roer,” het die DA in ’n verklaring gesê. Hulle het die polisie ook daarvan beskuldig dat hulle aanhoudend verskonings soos ’n tekort aan hulpbronne, opleiding en personeel opdis. Die DA wil onder meer hê die ANC moet oor die volgende antwoorde gee:

1. Hoe gaan die probleem van te min hulpbronne en personeel by polisiekantore opgelos word, en hoe gaan die polisie bestaande hulpbronne gebruik om misdaad te bekamp?

2. Wat gaan die minister anders doen as voorheen om te sorg dat senior polisiebestuur behoorlik opgelei is, verantwoordbaar gehou word en toegerus is om hul werk te doen?

3. Hoe gaan die polisie sorg dat ’n tekort aan toerusting betyds geïdentifiseer word sodat plaasvervangers gou genoeg verskaf kan word, en gaan die minister die privaat sektor betrek om met dié tekorte te help?

4. Wat gaan die minister doen om speurdienste en die afdelings vir misdaadintelligensie by te staan?

5. Wanneer gaan die minister misdaadsyfers vier maal per jaar pleks van net een maal per jaar begin bekendstel?

“Daar was wel die laaste tyd ’n rits groot veranderinge by die polisie, maar dit gaan nog ’n ruk duur voor ons die gevolge van dié veranderinge gaan sien,” sê Gareth Newham, hoof van die Instituut vir Sekerheidstudie se afdeling vir bestuur, misdaad en geregtigheid. Gareth sê dié groot veranderinge by plaaslike polisiëring kan die misdaadsyfer beïnvloed:

1. Die polisie het ’n “terug na die basiese beginsels”-aanslag begin gebruik. “Dié program is in Oktober 2015 bekendgestel met die doel om die polisie die regte ding op die regte manier te help doen,” verduidelik hy. Die aksieplan sluit onder meer ’n fokus op dissipline binne die polisie in, sowel as sigbaarder polisiëring en om hulpbronne beter te benut.

2. “Die polisie het ook vir die eerste keer in 15 jaar ’n buitepaneel van kenners aangestel wat met hulle gaan saamwerk,” sê Gareth. Onder hierdie kenners tel regskenners, senior bestuurders met jare se ervaring in die polisie en onafhanklike kenners uit die buiteland. “Dié paneel moet die polisie help hervorm en hulle bystaan met nuwe metodes wat doeltreffend kan wees,” sê hy.

3. “Die polisie het ook aangekondig dat hulle voortaan die misdaadsyfers kwartaalliks pleks van jaarliks gaan bekendmaak.” Gareth meen dit is ’n goeie besluit omdat inwoners dan beter ingelig kan bly wat misdaadgewoontes betref en beter ingelig kan wees oor plaaslike polisiëring. Volg @huisgenoot op Twitter vir regstreekse dekking of hou hierdie stroom dop vir wanneer die nuwe misdaadsyfers bekendgemaak word. Huisgenoot se Mieke Vlok twiet onder die hutsmerk #HGmisdaad.