[caption id="attachment_154895" align="alignnone" width="600"]'n Skermgreep uit die verdoemende video. 'n Skermgreep uit die verdoemende video. [/caption]

“Dit kom neer op die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie en kan die betrokke kinders psigososiale skade berokken,” het Sihle Ngobese, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, gesê.

Die video, wat Dinsdagaand soos ’n veldbrand aanlyn versprei het, wys hoe die jong meisie, wat glo 16 is, kru vingertekens vir die kamera wys en giggel terwyl sy haarself met haar selfoon afneem. Sy draai ook voortdurend die kamera na die paartjie wat op die bed langs haar seks het.

Hul gesigte kan nie gesien word nie. Net die jong seun se naakte bolyf is sigbaar.

“Die departement het maatskaplike dienste gevra om met die kinders en hul ouers te skakel. Ons vra ook die publiek om nie die video aanlyn te deel of te kyk nie, omdat dit teen die wet is.

“Maak asseblief ook jul kinders bewus van die gevare van hul aanlyn gedrag en doen stappe om hulle op te voed en te beskerm,” sê Sihle.

Die meisie in die video was einde verlede jaar ook in die nuus omdat sy ’n boelievideo aanlyn versprei het van haar wat ’n ander skoolmeisie dreig.

In die video het sy gesê die meisie moet liefs nie skool toe kom nie, want sy gaan haar onder meer aanrand.

Dié video het ook uitgekring en sy is uit haar hoërskool geskors, waarna sy haar skoolloopbaan by ’n ander skool gaan voortsit het.

Die departement het die hulp van die polisie ingeroep om die saak te ondersoek.