Die Regsbronne-sentrum, Section27 en die Sentrum vir Kinderreg het gesê die vlaag kritiek wat persoonlik op regt. Masipa gemik is, het daartoe gelei dat sy nou polisiebeskerming benodig.

“Van die aanmerkings grens moontlik aan haatspraak, laster en minagting van die hof. Hierdie aanmerkings beweer regt. Masipa is korrup, of dat haar geslag of ras haar onbevoeg maak om die wet korrek toe te pas gegewe die bewyse wat gelewer is,” het die groep in ’n verklaring gesê.

Regt. Masipa het Oscar vrygespreek op die moord op sy meisie Reeva Steenkamp, wat hy op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet het.

Hy het beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Oscar is toe skuldig bevind aan strafbare manslag.

Die regsorganisasies het gesê terwyl dit te verstane is dat baie mense van die uitspraak verskil, het hulle die aanval op haar veroordeel; hulle beskryf dit as “onaanvaarbaar” en “onvanpas”.

“(Die aanvalle) het geen nut nie buiten om haar geregtelike hoedanigheid te ondermyn,” het die groepe gesê.

“Regt. Masipa se geslag of ras moet irrelevante oorwegings wees in menings oor haar uitspraak in die Oscar Pistorius-verhoor – of enige ander van haar sake. Haar beslissing verlede week het ’n deurdagte toepassing van die wet vereis met betrekking tot die getuienis wat deur albei partye voorgelê is.

“Of sy manlik of vroulik, swart of wit, sou die proses dieselfde gewees het. Dit was haar besluit om te neem en sy het dit geneem.”

Die drie groepe sê dreigemente aan regt. Masipa omdat sy swart of vroulik is, moenie in die huidige grondwetlike raamwerk geduld word nie, waar gelykheid en niediskriminasie van kardinale belang is.