Smeek maar om vergifnis . . .

Vir die twee boere wat na bewering ’n man in ’n doodkis probeer prop en gedreig het, sal dít die beste strategie in die hof wees om uit hul opspraakwekkende verknorsing te kom, meen die Johannesburgse strafregkenner Ian Small-Smith.

Willem Oosthuizen (28) en Theo Martins Jackson (29) van Middelburg, Mpumalanga, het Woensdag te midde van ’n swaar polisieteenwoordigheid in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die gewraakte video waarin hulle na bewering ’n wenende en angsbevange Victor Rethabile Mlotshwa (29), in ’n kis druk het die afgelope maand soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei.

[caption id="attachment_145766" align="alignnone" width="204"]'n Skermgreep uit die video wat intussen van YouTube verwyder is. Foto: YouTube 'n Skermgreep uit die video wat intussen van YouTube verwyder is. Foto: YouTube[/caption]

In die video van net 20 sekondes dreig die twee mans om petrol oor Victor te gooi toe hy uit die kis probeer klim. Dan dreig een ook: “Bring daai slang!”

Ian meen al het die mans nie die klaer werklik begrawe nie, het hy sekerlik geglo hulle gaan.

“As hulle my kliënte was, sou ek hulle aanbeveel om ’n skikking met die slagoffer te bereik en in die hof op te staan en te sê: ‘Vergewe ons! Vergewe ons!’ ” sê Ian. Hy meen as die mans eerste oortreders is, sal hulle tronkstraf kan vryspring, maar met ’n misdaadrekord gaan hulle moeilikheid hê. Prof. Marinus Wiechers, grondwetkenner en voormalige rektor van Unisa, sê wat ’n mens in dié video sien is ’n ernstige aantasting van Victor se menswaardigheid. “Dit is ’n skending van sy reg om te lewe. Ek sal dink hy moet ook ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig maak. Die MRK sal dan sekere aanbevelings kan maak. Hy kan hulle ook voor die gelykheidshof daag, wat ’n straf sal oplê as hulle skuldig bevind word." Die man in die kis beweer die twee het hom aangerand nadat hulle gesê het hy het die eiendom betree.

Ná die twee mans se inhegtenisneming het die EFF die voorval in ’n verklaring as “die vernedering van swart mense in die geheel” bestempel en beskou dit as ’n rasseaanval. Die video is deur wit en swart gekritiseer.

Die voorval is glo op die JM de Beer-boerdery naby die Komati-kragstasie verfilm. Dit is onbekend wanneer die selfoonvideo opgeneem is.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die mans het hulself Maandag by die Blinkwater-polisiekantoor oorgegee.

Die saak is tot 25 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek.