“Ek dink daar is ’n beduidende risiko dat Oscar aan die moord op die inbreker skuldig bevind kan word,” het die verdedigingsprokureur William Booth aan die Kaapstadse Persklub gesê.

'Hy kon ’n waarskuwingskoot afgevuur het.'

“Hy kon ’n waarskuwingskoot afgevuur het. Op die ander weergawe, selfs as die hof vind dit is aanvaarbaar . . . Ek dink hy gaan ’n probleem hê.”

Reg. Thokozile Masipa sal Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria uitspraak lewer in die saak.

Die atleet is van moord aangekla ná die skietdood van die model met ’n graad in die regte.

Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

William het gesê enigiemand wat vier skote deur ’n deur skiet, in ’n piepklein toilet, moes geweet het hulle gaan die mens aan die ander kant doodmaak.

Maar hy sê die staat sal bo enige redelike twyfel moet bewys dat Oscar aan moord skuldig is.

As die hof hom skuldig bevind aan die moord op ’n inbreker, sal sy emosionele toestand en die hoë misdaadvlakke in die land ’n belangrike rol speel by die vonnisoplegging.

Oor die moontlikheid van moord met voorbedagte rade, sê William die staat sal sukkel om die hof te oortuig dat hy dit beplan het.

Hy sê die hof sal ook die moontlikheid van strafbare manslag oorweeg, wat fokus op nalatigheid eerder as opset. In hierdie geval sal die hof moet vergelyk wat ’n redelike mens – met ’n liggaamsgebrek, besondere emosionele staat en vrees vir misdaad – sou gedoen het. “Dalk aanvaar die hof wat gebeur het en sê hy was daarop geregtig om vier skote te skiet. Ek dink dis hoogs onwaarskynlik.”

'Die meeste van die verdediging se getuienis was moontlik ’n rookskerm.'

William het regt. Masipa se hantering van die saak geloof en sê sy “kom soos ’n baie objektiewe mens voor”.

Hy verwag sy sal krities wees oor die verdediging se hantering van die saak met die roep van verskeie getuies en hul aanval op die geloofwaardigheid van forensiese en ballistiese kenners.

“Die meeste van die verdediging se getuienis was moontlik ’n rookskerm. Jy roep nie getuies as daar nie ’n rede is nie,” sê William.

Hy meen dit was tot die verdediging se nadeel dat hulle die meeste van hul feite tydens die borgtogaansoek voorgelê het.