“Die OVK sal Suid-Afrikaanse burgers die geleentheid bied . . . om hul naam op die nasionale kieserslys te voeg tot die dag dat die verkiesing aangekondig word,” sê Trevor Davids, die OVK se Wes-Kaapse woordvoerder.

Die OVK sê hulle sal jong mense aanhou aanspoor om te registreer. Jy kan tydens kantoorure by die OVK se kantore registreer.

Die naweek se registrasie het glad verloop, hoewel party sentrums Saterdag ontwrig is. Sporadiese betogings het registrasie bemoeilik op Bekkersdal in Gauteng, Sterkspruit in die Oos-Kaap, Malamulele in Limpopo en in die Joe Morolong-munisipaliteit (Mothibistad en omgewing) in die Noord-Kaap.

Die OVK sê registrasie het Sondag landwyd glad verloop. Uit voorlopige skattings blyk dit 1,1 miljoen mense het Saterdag ’n registrasielokaal besoek.

“Die vroeë tendens was dat daar sowat 40 persent nuwe registrasies was, 49 persent aansoekers wat hul  registrasiebesonderhede van een stemdistrik na ’n ander verander het en 11 persent aansoekers wat in dieselfde stemdistrik herregistreer,” sê die OVK.

“Aanvanklike tendense dui ook op ’n redelik hoë opkoms van jong mense, met tot driekwart van nuwe registrasies deur mense onder 30.”

Die kommissie sê registrasielokale in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap is die drukste besoek.

Die ANC in Gauteng sê hulle is beïndruk met die kieserregistrasie en die opkoms.

“Die reaksie van die inwoners van Gauteng op die naweek se kieserregistrasie bevestig dat Suid-Afrika se jong demokrasie volwasse raak,” het Gauteng se ANC in ’n verklaring gesê.

“Dié volwassenheid is die duidelikste aanduiding dat die kieserslys in die algemene verkiesing in 2014 sal vermeerder met dié dat jonger kiesers aansluit.”

– Sapa

Sapa