Reeva Steenkamp se een niggie het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria gesê hul familie vind die onderhoud wat die veroordeelde moordenaar Oscar Pistorius aan ’n TV-kanaal toegestaan het kwetsend.

“Ek is glad nie gelukkig daaroor nie. Ek dink dis baie onregverdig om met die wêreld oor jou weergawe te wil praat terwyl jy in die hof die geleentheid gehad het om dit te doen. Dis kwetsend en ek kan nie verstaan hoekom nie,” het Kim Martin tydens Oscar se vonnisverrigtinge gesê.

Die aanklaer, adv. Gerrie Nel, het haar ondervra terwyl sy ter strafverswaring getuig het.

Die onderhoud, deur die ondersoekende joernalis Mark Williams-Thomas vir ’n spesiale eenmalige program getiteld Oscar Pistorius: The Interview, sal op Vrydag 24 Junie om 21:00 op Brittanje se ITV uitgesaai word.

Kim het Woensdag gesê al wat haar familie ooit van Oscar wou gehad het, was die waarheid. “Oscar se weergawe het so baie keer verander. Ek het hom nooit hoor sê ek vra verskoning dat ek Reeva agter ’n deur geskiet en vermoor het nie. Ek voel nie daar was enige verskoning van hom nie. Ek voel nie die ware weergawe het uitgekom nie. Ons wou net die waarheid gehad het.”

Lees ook: Trane toe Oscar Pistorius op sy stompies loop in hof

Kim het gesê Reeva se moord raak die familie en haar eie kinders steeds. Hulle hou kop bo water, maar die letsels is baie diep. “Ek moet sterk wees vir hulle, kop bo water hou, want ons moet, ja. Daaroor kom? Nee.”

Tydens kruisondervraging het adv. Barry Roux, vir Oscar, transkripsies van onderhoude met Reeva se vriende aan Kim voorgelees waarin hulle die voormalige Paralimpiese atleet ophemel. “Ek weet sy het van Oscar gehou. Ek dink nie sy het hom liefgehad nie. Ek kan nie oor hul gevoelens kommentaar lewer nie,” het Kim aan Barry gesê.

Lees ook: Emosionele Oscar Pistorius by vonnisverrigtinge

Kim het in Oktober 2014 tydens Oscar se vonnisverrigtinge getuig. Sy het aan die hof gesê sy doen dit om Reeva ’n stem te gee. Kim het Oscar in Januarie 2013 vir die eerste keer in Kaapstad ontmoet. Toe het sy haar niggie gevra: “Is jy gelukkig?” “Sy het haar skouers opgehaal en gesê: ‘Ja, maar ons moet praat.’ ”

Kim sê sy het nie destyds kans gehad om die gesprek op te volg nie en dit pla haar steeds.

Gerrie en Barry het aan regter Thokozile Masipa gesê hulle het geen meer getuies om te roep nie. Barry het toe met sy slotbetoë begin.

Bron: News24