Reeva Steenkamp se ma het Oscar Pistorius vergewe.

June Steenkamp sê sy haat nie die Paralimpiese atleet nie, maar sy glo sy gaan nie rus voor daar ’n uitspraak bereik is nie. Oscar het Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis in Pretoria geskiet.

Sy het aan die Britse tydskrif Hello! gesê: “Ek haat Oscar nie; ek het hom vergewe. My geloof skryf dit voor. Maar ek is vasbeslote om hom in die oë te kyk en my dogter terug te eis.

“Dit is belangrik dat hy weet ek is daar, dat Reeva se ma wat die lewe aan haar geskenk het en haar liefgehad het, is daar vir haar.”

“Ek voel haar teenwoordigheid en praat heeltyd met haar.”

June het bygevoeg haar geloof het haar deur die traumatiese hofsaak gehelp en wil net die waarheid ontdek oor wat met haar dogter gebeur het.

Sy het gesê: “Ek vertrou dat God sal heers en geregtigheid sal geskied. Ons soek net die waarheid.”

Die 27-jarige atleet is onlangs geskik verklaar om verhoor te word nadat hy ’n maand lank sielkundige waarneming ondergaan het. Hy beweer hy het haar nie met opset vermoor nie; hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien en het in selfverdediging opgetree.

As Oscar aan moord skuldig bevind word, kan hy lewenslange tronkstraf opgelê word. Hy kan 15 jaar tronkstraf opgelê word as hy skuldig bevind word aan die minder ernstige klag strafbare manslag.