Skaars drie maande later is Reeva doodgeskiet aan die hand van die man waaroor sy en Gina so opgewonde was voor daardie eerste afspraak. Gina se pa, Cecil, en haar broer, David, het Reeva se lyk gaan uitken. Nou het Gina, wat altyd gehuiwer het om oor haar vriendin se dood te praat, ’n roerende huldeblyk op Instagram gedeel aan Reeva, of Alfi soos sy na hierdie huisvriendin van die Myers verwys het.

"Ek was aanvanklik sku om oor jou te praat," begin Gina haar lywige inskrywing. "Maar dis sommer simpel."

“Jy was iemand om lief te hê, nie net deur my nie. Deur almal,” skryf Gina. “Ek dink die grootste geskenk aan iemand wat nie meer met ons is nie, is om te praat oor hul liefde en die herinneringe aan hulle.

“Om hul siele te omarm. Om lig in hul lewens te bring wanneer hulle nie meer hier is om dit te doen nie.

“Ek dink as jy die stories het, moet jy dit deel. Jy moet dit hardop uitroep. Praat oor hul lewens. Praat oor hul drome.

“Ek het nie. Ek is aangesê om dit nie te doen nie. Ek het bang geword om dit te doen. Maar ek sal dit van nou af doen.”

Gina sluit haar huldeblyk af deur vir Reeva te sê hoe sy haar mis maar ook dankie te te sê vir al haar liefde.

Keer op keer het Gina in hof gesit en na al die getuienis rondom haar vriendin se dood geluister. Dieselfde vriendin wat deel van hul huisgesin geword het nadat sy Johannesburg toe getrek en by hulle ingetrek het.

By die dowwe foto van Reeva en Gina skryf laasegenoemde ook hoe sy haar mis. "Jy het my baie gegee om lief te hê."

Oscar Pistroius is tans besig om sy vonnis van ses jaar in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria uit te dien. Hy is vir 'n tweede keer tronk toe gestuur nadat die aanklag waarop hy skuldig bevind is van strafbare manslag na moord verander is.