Die aanklaer, Gerrie Nel, het die ballistiese kenner Thomas Wolmarans ondervra oor Reeva se posisie toe die koeëls haar tref en die moontlikheid dat koeël B (soos vroeër daarna in die bewyse verwys) haar sou gemis het as sy gestaan het.

“U Edele, as sy plat op die vloer gesit het, sou koeëls C en D haar gemis het. Ek dink die bewyse is daar dat sy nie op die toilet gesit het nie.”

Gerrie het Thomas gevra om sekere moontlikhede te oorweeg.

Die Paralimpiese atleet staan tereg weens moord nadat hy Reeva, sy meisie, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Oscar het onskuldig gepleit; hy beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Thomas het Maandag gesê hy verskil van Gerrie dat Reeva in die heup geskiet is, agteroor geval het omdat sy nie meer haar gewig kon dra nie, op die tydskrifrak geval het en toe vooroor geleun het toe sy in die arm en kop geskiet is.

Reeva se ma, June, haar niggie en die Myers-gesin was Maandag in die hof. Saam met hulle was twee lede van die ANC-vroueliga.

Oscar se suster, Aimée, was saam met nog familielede in die hof.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar.

Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Thomas is van die getuiebank verskoon.

- Sapa