Reeva Steenkamp se ouers het Woensdagoggend aan hul dogter hulde gebring by die strand waar haar as gestrooi is.

Sy is in 2013 op Valentynsdag doodgeskiet deur haar destydse kêrel, die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius. Oscar het beweer hy het gedink sy is ’n inbreker.

Reeva, ’n regsgeleerde en model, sou op Woensdag 19 Augustus haar 32ste verjaardag gevier het. Haar ouers, Barry en June Steenkamp, het onlangs aan Huisgenoot gesê hulle gaan op die oggend van haar verjaardag na Somerstrand in Port Elizabeth om hulde te bring aan hul dogter.

Hulle het gesê hulle gaan rooi rose in die water plaas en hoop om die dolfyne te sien waarvoor Reeva so lief was. “Ons sal liewer in daardie tyd aan haar dink as aan Oscar,” het June aan Huisgenoot gesê. Hulle het nie ander media-onderhoude toegestaan nie.

’n Blink toekoms

Ten tyde van haar dood het ’n blink toekoms gewag op Reeva. Volgens haar sosialemediaprofiele was sy ’n gelukkige, ambisieuse vrou. Op haar Instagram- en Twitter-blad het sy haarself beskryf as ’n “Suid-Afrikaanse model, voorbladmeisie, deelnemer aan Tropika Island of Treasure, regsgeleerde, kind van God”.

Op 15 Desember 2012, enkele maande voor haar dood, het sy op Twitter vertel van haar droom om eendag te trou. “Om deel van die gevolg te wees, laat my my vriende waardeer, en ek sien uit na die dag dat ek met die man van my drome trou.”

Op Instagram het sy foto’s gedeel van ’n trourok, ’n rok vir die onthaal en ’n uitrusting wat sy op haar wittebrood wou dra. Die sproetgesigmodel het op 29 Desember 2012 getwiet: “@Leo_Rising: Badkamer: ’n Talentvolle, geheime plek waar #Leo kan sing, dans, toneelspeel en belangrike lewensbesluite kan maak. Hahaha.”

Dis ironies dat sy agter ’n geslote badkamerdeur by Oscar se huis in Pretoria geskiet is. Hy het tydens die hofsaak gesê Reeva moes badkamer toe gegaan het sonder dat hy besef het sy het uit die bed opgestaan.

Moederlike instink

Reeva het ’n paar maande voor haar dood ’n foto van ’n meisietjie en seuntjie in stylvolle drag op Twitter gedeel en daarby geskryf: “Hallo aan my toekomstige kinders!”

Sy kon dié droom egter nooit bewaarheid het nie.

Die blondekop se boodskappe op sosiale media was elke dag gevul met optimisme en aanmoediging vir haar aanhangers. Op 27 Desember 2012 het sy opgeruimd geklink oor die jaar wat voorlê. “In 2013 gaan ek sê wat ek dink, stap waar my voete droom om te stap, wees by dié wat my hart laat glimlag en my drome bewaarheid.”

Sy het ook ’n twiet van haar kêrel gedeel: “Alles gebeur vir ’n rede. Hê vertroue in jouself en ander. Bid en vertrou dat God se wil sal geskied.”

Laaste Instagram-inskrywing

In twiets was Reeva opgewonde oor haar 29ste verjaardag, wat sy in 2012 gevier het. ’n Week voor dié verjaardag het sy by die Da Vinci-hotel in Sandton ’n deftige teepartytjie gehou.

Die pragtige, gelukkige lewe wat sy op sosiale media voorgehou het, het in die vroeë oggendure in Februarie 2013 tot ’n einde gekom toe vier skote deur die toiletdeur afgevuur is.

Haar laaste Instagram-inskrywing is dié van ’n vrou wat skree terwyl ’n man se hand haar mond probeer bedek.

“Ek het vanoggend in ’n gelukkige, veilige huis wakker geword. Nie almal het nie. Maak jou stem dik teen verkragting in Suid-Afrika. Rus in vrede, Anene Booysen,” het sy daarby geskryf, met verwysing na die 17-jarige meisie wat vroeër daardie maand in die Wes-Kaap verkrag en vermink is.

Vrydag sal alle oë gerig wees op die hekke van die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria, waar Oscar op korrektiewe toesig vrygelaat word nadat hy 10 maande van sy tronkstraf van vyf jaar vir strafbare manslag uitgedien het.

Bron: News24