Op die dag dat Henke Pistorius gedink het die laaste dag in sy seun, Oscar, se uitgerekte hofstryd is, het hy ’n roerende brief aan vriende geskryf.

In die brief, wat Henke ook met Huisgenoot gedeel het, skryf hy adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, het nog tot vandag toe gehad om teen Oscar se vonnis te appelleer.

Maar volgens Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), was vandag net nog ’n sperdatum vir die staat waaraan die staat voldoen het.

In sy brief sien ’n mens ’n deel van die pa en seun se verhouding waarvan min mense bewus was. Maar dit wys hoe die pa nog elke dag swaarkry oor sy jongste seun wat in die tronk is.

“Ek sien hom steeds voor my. Wanneer hy saans kom nag sê nadat hy gebad het. ‘Kaalvoet.’ Hy loop asof hy op skerp klippies loop.

“Dan sou ek hom gewoonlik bed toe dra.”

Oscar was toe nog ’n seuntjie wat tussen 25 en 28 kg geweeg het. Toe reeds moes Henke toekyk hoe elke tree op sy stompies vir Oscar ’n pyniging is.

“Mense weet nie hoe sensitief sy stompies is nie. Mense weet nie hoe sy stompies gebloei het wanneer hy topfiks moes wees nie. Oscar het toe 97 kg geweeg.”

Vir minstens ’n gedeelte van die volgende ses jaar, sal Henke nie vir Oscar kan help terwyl hy self op sy stompies in die tronk oor die weg moet kom nie.

Dit is juis oor die ses jaar wat Oscar gevonnis is weens die dood van sy meisie, Reeva Steenkamp, wat die staat ’n aansoek om verlof tot appèl wil bring. Vir die staat is ses jaar nie genoeg vir die aanklag van moord waarop Oscar skuldig bevind is nie.

Hoewel Henke steeds dag vir dag glo Oscar het Reeva nie met opset vermoor nie, het tot die hoogste hof in die land bevind dit was moord. Ondanks alles “gaan die tragiese werklikheid net so bly. Reeva is dood. Omdat Oscar ’n fout gemaak het.”

Die staat is nog besig om aansoek te doen vir verlof tot appèl teen Oscar se vonnis van ses jaar, sê Luvuyo.

Vrydag was nog ’n sperdatum vir die staat om vyf afskrifte van sy aansoek by die appèlhof te liasseer. Dit is lankal gedoen, bevestig Luvuyo.

Volgens Luvuyo wag die staat nou op die appèlhof. As die appèlhof wil argumente aanhoor, sal hulle die staat van ’n datum verwittig. Anders sal die NVG net ’n brief van die hof ontvang as die aansoek van die hand gewys word.

Vir Henke moes baie nog tydens sy kind se uitgerekte verhoor gesê word wat sy onskuld sou bewys. Daarby is daar baie goed wat wel deur adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer, gesê is, waarmee hy nie saamstem nie. Maar hierop wil hy nie uitbrei nie.

Al wat hy weet, is dat sy kind skuldig bevind is aan die “grootste misdaad” en dit is om skuldig bevind te word aan moord. Die wete is vir Henke ’n groot seer en onreg.

“Ek kan ’n boek hieroor skryf. Moet asseblief nie oordeel wanneer jy sonder die werklikheid, sonder die ware inligting, poog om ook in regverdigheid te oordeel nie,” sê Henke.

“Oscar is skuldig aan ’n fout. Aan manslag. Beslis nie aan moord nie. Die eerste sooie om dit reg te stel, word nou gespit.

“Kyk gerus wie tel die eerste klippe op.

“Die dood van Reeva sal altyd ’n tragiese hartseer wees en bly. ’n Ewige pyn in Oscar se gemoed.”