Prins William het verklap hy wil sy seun se kamer soos ’n reënwoud versier, “met speelgoedolifante en -renosters oral in die kamer”.

William wil graag hê prins George moet sy liefde vir die natuur deel, en hy beplan om sy seun se kamer met speelgoeddiere en groen blaarpatrone te laat versier.

Hy het in ’n onderhoud met CNN gesê: “Ek wil speelgoedolifante en -renosters oral in die kamer hê. Ons sal dit met soort van, jy weet, baie bosse en sulke goed versier. Ons sal hom laat grootword asof hy in die bos is.”

Die trotse nuwe pa het daarop aangedring om sy seun self van die hospitaal af huis toe te neem nadat sy vrou, Catherine, verlede maand by die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, die lewe geskenk het. Hy het ook gesê hy wil nie “ ’n gedoente” hê nie.

Hy het verduidelik: “Ek dink dis baie belangrik om jou seun en vrou van die hospitaal af huis toe te neem. Ek hou ook nie van ’n gedoente nie, dus is dit baie makliker om dit net self te doen.”

William raak nou al gewoond aan ouerskap, maar sê dis ’n “baie emosionele” ervaring.

Op ’n vraag wat hy graag aan klein George sal wil oordra, het hy gesê: “Op die oomblik is die enigste nalatenskap wat ek aan hom wil gee om meer te slaap en miskien nie so dikwels ’n nuwe doek nodig te hê nie! Ek dink die laaste paar weke was vir my ’n baie vreemde, emosionele ervaring; iets wat ek nooit gedink het ek sal beleef nie.”