Waar het hulle tot nou toe weggekruip? So wou pres. Jacob Zuma nou die dag weet toe ’n groep jong mense hom by die presidensiële ampshuis in Kaapstad, Tuynhuis, gaan toesing het.

“Julle is een van die beste voorbeelde van wat dit regtig beteken om ’n reënboognasie te wees,” het hy laat hoor. “Kyk na julle. Luister na julle. Ek móét julle net aan Madiba voorstel.”

Dis nie aldag dat ’n groep singende jong mense ’n president skoon begeester nie – maar die Suid-Afrikaanse Jeugkoor met sy bont vermenging van kulture en unieke vertoning van sang, dans en kleurryke uitrustings begin nou al gewoond raak aan sulke reaksies.

Die koor met sy 88 lede is inderdaad ’n inspirerende voorbeeld van watter hoogtes doodgewone mense kan bereik as hulle net die kans gegun word – dit kon Skouspelgangers vanjaar ook self ervaar toe die koor vir die eerste keer vir Huisgenoot by Sun City opgetree het.

Die oorgrote meerderheid lede kom uit voorheen benadeelde gemeenskappe landwyd, en dis net danksy beurse dat hulle vandag aan die Hoërskool Stellenberg in Bellville skoolgaan en in die koor sing.

Dis ’n mengelmoes van verskillende rassegroepe en agtergronde wat hier saamgetrek is, en doemprofete het gewaarsku dit gaan ’n Babelse verwarring van tale en kulture afgee. Maar die koor het hom in die vyf jaar sedert sy stigting bewys as ’n plek van samehorigheid. Hul leuse is nie verniet nie: Vind harmonie in diversiteit.

Die koorlede is uitstekende jong ambassadeurs wat die wêreld wys hoe maklik rasseharmonie tussen Suid-Afrikaners van alle kulture eintlik geskep word, sê die stigter en koorleier, André van der Merwe.

Maar drie jaar gelede het hulle byna op straat gesit – en nou staar dieselfde krisis hulle weer in die gesig. Die koor moes destyds veg om oorlewing nadat hul hoofborg by ’n finansiële skandaal betrokke geraak het. Destyds was hulle die wêreldberoemde Fidentia-koor, en terwyl kurators probeer vasstel het wat geword het van honderdmiljoene rande wat in die sogenaamde Fidentia-skandaal verdwyn het, moes die koorlede skielik letterlik van kospakkies uit die gemeenskap oorleef.

Huisgenoot het oor hul penarie geskryf, en gelukkig het ’n sakeman wat die artikel gelees het (’n Droom aan skerwe,

1 Maart 2007) R2 miljoen geskenk. Kort daarna het PetroSA aangetree as nuwe borg. Maar pas het PetroSA bekendgemaak dat hulle weens die finansiële krisis genoodsaak is om hulle te onttrek, en vir die tweede keer binne drie jaar veg die koor om oorlewing.

“Dit is so wreed om vir hierdie kinders ’n beter lewe te gee en dit dan weg te vat,” sê André. En dit is so dat sommige van die kinders vir die eerste keer in hul lewe op ’n bed kan slaap, drie maaltye per dag kan eet en liefde en ondersteuning vir hul sang en skoolwerk kry.

Lees meer oor die krisis wat hierdie koor in die gesig staar in Huisgenoot, 16 Desember 2010.