Nooddienste in Johannesburg het vandag hul hande vol gehad met verskeie ongelukke en noodgevalle nadat swaar reën vroegoggend oor die Goudstad en ander dele van Gauteng uit gesak het.

Volgens berigte is die Hoërskool Monument in Krugersdorp gesluit weens erge oorstromings en daar was ook oorstromings by die dam langs die Key West-winkelsentrum.

’n Woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste , sê hulle het vroeër die oggend twee mense in Soweto uit hul motor gered nadat hulle op 'n oorstroomde pad vasgekeer was.

Daar was ook talle motorongelukke as gevolg van die swaar reën en ’n aantal mense is onder meer in drie motorongelukke op die N1, M1 en N3 beseer. Water het ook by sommige huise ingestroom.

Volgens die nooddienste is veral plakkerskampe in Soweto, Alexandra en Diepsloot is kritieke gebiede.

Volgens William Msimanga, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, word reën vir Vrydagmiddag in Pretoria voorspel.

“Oor Johannesburg sal dit die hele dag bewolk wees en dit sal aan en af reën." Hy sê die reënval sal 'aansienlik' wees.

Bronne: Beeld, Sapa