Hy deel sy huis met 41 vriende. Maar dis nie skoolpelle of kunstenaarsvrinne wat hom verwelkom wanneer hy saans ná vertonings by sy wafferse kommune in Vanderbijlpark aan die oewer van die Vaalrivier instap nie. Dis kitare.

En hulle is ook nie sommer net kitare nie . . . Nee, hy’t hulle net so lief soos vir sy ma, die nuwe vrou in sy lewe en sy boesemvriend, die sanger Dozi. Vir Ray (31) is sy kitare nes regte mense.

“Elkeen het ’n storie en elkeen het ’n persoonlikheid,” sê die sanger van treffers soos Jessica, Dis Verby en Hokaai Stoppie Lorrie terwyl hy liefdevol oor een van die blink elektriese instrumente se snare streel.

“Daardie vier is byvoorbeeld afgetree,” sê hy, en beduie na vier menere wat teen die sitkamermuur hang. “Hulle het hard gewerk; hulle verdien om te rus.” Hy tel die skelblou nommer op wat hy onlangs op Huisgenoot-Skouspel se verhoog gelooi het. “Hierdie een geniet die aandag nog te veel om op te hou werk; sy’s ’n wilde meisie!”

Sy geliefde instrumente is ook nie goedkoop hierjys wat jy sommer by enige musiekwinkel kan koop nie. Hulle is ghrênd en dúúr: Daar is een wat jou R200 000 uit die sak sal jaag, en nog een wat R80 000 werd is. Daar is een wat aan ’n lid van die bekende Britse groep The Shadows behoort het, en een wat Dylan se pa, ’n motorwerktuigkundige, destyds in ruil vir ’n motor gekry het.

Dit hinder Ray glad nie dat hy sy beursie telkens leeg skud om vir nog ’n kitaar op te dok terwyl sy huis nog aan die bank behoort nie. Hy vind sy ontvlugting immers sedert kleintyd agter die snare, nog lank voor die dae toe hy vroue met sy stuitige glimlag kon laat bloos.

Ja, sy kitare was sy vriende toe hy nie juis ander gehad het nie. Die kordate sanger met die stoutseunhouding was ’n pynlik skaam kind wat bitter hard moes werk en lank swaargekry het om te kom waar hy vandag is . . .

Leer Ray verder ken in Huisgenoot van 7 Januarie.