Raven en Eric is nie gekeur vir die toernooi nie en het vier gekeurde spanne uitgeskakel op pad na die eindstryd. Een van die hekkies wat hulle tot dusver moes oorkom, was die Amerikaanse tweeling Bob en Mike Bryan, die wêreld se beste dubbelspaar. “Dit was ongelooflik! Ons het ’n baie skoon wedstryd gespeel van die begin tot die einde,”  het Raven ná hul halfeindstryd gesê. “Dit was so lekker om op so ’n hoë vlak te speel. Ek geniet al die ondersteuning wat ek uit Suid-Afrika kry.”

Die Suid-Afrikaanse minister van sport, Fikile Mbalula, het Raven blykbaar voor die halfeindstryd gebel om hom sterkte toe te wens.

Saterdag se eindstryd teen Lukasz Kubot (Pole) en Robert Lindstedt (Swede) sal Raven sowel as Eric se eerste Grand Slam-eindstryd wees. As hulle wen, sal Raven die eerste Suid-Afrikaner sedert Ellis Ferreira in 2000 wees wat as die dubbelspel-kampioen in die Australiese Ope gekroon word.