Ninja en Yo-landi Vi$$er van die rap-ravegroep Die Antwoord gaan die hoofrolle vertolk in die rolprentregisseur Neill Blomkamp se volgende fliek, Chappie.

Blomkamp het bekendheid verwerf met sy rolprent District 9.

Daarna het Elysium gevolg, met onder andere Matt Damon en Jodie Foster in die rolverdeling.

“Ons speel onsself,” het Ninja gister aan Volksblad gesê. Die begroting is volgens hom $50 miljoen en die fliek word deur welgesteldes van Hollywood gefinansier. Chappie word van September tot Desember in Johannesburg verfilm. Blomkamp skryf die draaiboek.

’n Boek wat Ninja en Vi$$er saam met die fotograaf Roger Ballen saamgestel het, I Fink U Freeky, word ook binne enkele maande in Amerika en Europa uitgereik.

-Volksblad