[caption id="attachment_153192" align="alignnone" width="600"]xx CJ Kotzé het skielik inmekaar gesak en was basies vir 15 minute dood. Foto's: Verskaf[/caption]

Klein CJ Kotzé is sedert die voorval op 1 Januarie in ’n bedenklike toestand in die Arwyp-hospitaal in Kempton Park.

“Basies was hy vir 15 minute dood, daar was geen hartklop of pols nie,” het ’n emosionele Charlene Kotzé (26), sy ma, aan Huisgenoot vertel.

Die gesin het op Nuwejaarsdag by vriende se huis in Kempton Park gekuier en CJ se ouers, Charlene en Jan (29), was by toe die voorval gebeur. Nadat hulle tevergeefs probeer het om hom weer by sy bewussyn te kry, het hulle met hom hospitaal toe gejaag.

“Hy het met sy gesiggie teen die grond geval,” het Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-welsynorganisasie, telefonies aan Huisgenoot vertel.

Sedert die voorval is klein CJ in ’n geïnduseerde koma, volgens Charlene. Hy het Woensdag (4 Januarie) vlugtig ontwaak, maar was baie deurmekaar en is kort daarna weer verdoof. Die oorsaak van sy skielike ineenstorting is nog onbekend.

Charlene sê CJ was nog altyd ’n gesonde seuntjie wat graag welpierugby speel. Hulle het verlede jaar opgemerk dat hy ’n soort angsaanval kry wanneer hy opgewonde raak, amper asof hy sy bewussyn verloor. Hulle het hom toe na ’n dokter geneem, wat die aanval aan ’n vorm van angs toegeskryf het.

“Maar CJ het nie eens medisyne daarvoor gekry nie,” vertel Charlene moedeloos.

“Dit is so bitter moeilik vir ons, wanneer hy wakker word is daar nie beweging in sy ogies nie.”

Sy en Jan wag nou geduldig op die uitslag van die magnetiese resonansie-beelding (MRI) van sy brein, wat hopelik vir hulle ’n beter aanduiding oor CJ se toestand sal gee.

CJ sou oor minder as ’n week sy laerskoolloopbaan by die Laerskool Rapportryer in Randfontein begin. “Dit breek ons harte. Sy sussie, Megan (2), vra die heeltyd na hom en ons het nie antwoorde nie”.

Omdat die gesin se mediese fonds nie die hospitaaluitgawes ten volle dek nie, het klein CJ die eerste twee dae in die ongevalle-eenheid deurgebring voordat hy na die hoësorgeenheid oorgeplaas is.

Die Kotzé-egpaar het intussen vir Child Medi, ’n nie-winsgewende organisasie wat hom vir kinders in nood beywer, genader om te help met fondsinsameling vir die mediese koste.