“Hierdie is ’n rooftog,” het een van die vyf verdagtes aan die 76-jarige slagoffer by die Sascha-tehuis in Elandsvlei in Randfontein gesê.

[caption id="attachment_159195" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: wikimedia Foto ter illustrasie. Foto: wikimedia[/caption]

Vyf rowers het Vrydagaand (10 Februarie) in besoektyd eerste by Lena Heystek se slaapkamer ingehardloop en haar juwele, selfoon, ’n handsak en kluis gesteel.

Op pad uit na die ander vertrekke het hulle haar die kluis se sleutel gevra, maar omdat sy reeds vroeër die dag die sleutels in die tehuis se groot kluis gaan bêre het, is hulle met haar hele kluis vort.

Die verdagtes het ook die tehuis se plasma-televisiestel daar weg.

Die verdagtes het na bewering in ’n rooi BMW gevlug, het kaptein Appel Ernst van die Randfonteinse polisiekantoor bevestig. “Die gewapende verdagtes het glo van die werkers by die tehuis vasgemaak voordat hulle van die toneel gevlug het.”

Die eienaar van die tehuis, André Benadie, wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie, maar het wel bevestig dat die aandbesoektyd, wat gewoonlik van sewe- tot agtuur is, opgeskort is tot verdere kennisgewing.

Die polisie ondersoek ’n saak van roof.