Die sanger van sulke treffers soos Dans met die Rooirok het vir 46 jaar lank stampvol sale met sy musiek bekoor.

Prostaatkanker is in 2013 by hom gediagnoseer, en Randall was tot onlangs in die onkologieafdeling van ’n Paarlse hospitaal opgeneem.

In die laaste maande van sy lewe het Randall by Stellenbosse vriende tuisgegaan.

Na wat berig word was sy eksvrou en kinders by hom toe hy in dié huis oorlede is. Hy is glo vanoggend omstreeks 03:45 dood.

Huisgenoot het sowat twee weke voor sy dood ’n laaste keer met Randall gesels waartydens die sanger erken het die kanker het die oorhand gekry.

Hy was in baie pyn en deurmekaar.

In sy laaste onderhoud aan Huisgenoot (Ek weet ek sal daar bo ook musiek maak, 24 Desember 2015) het Randall erken die dood is iets wat nou vir hom ’n werklikheid geword het, en dit is iets waaroor hy al ure lank gedink het.

“Soms wanneer die pyn te reg raak, is ek bang vir die dood. Ek het al selfs gewonder hoe ek kan doodgaan, maar dan besef ek beheer nie die tyd nie. Ek moet net wag.”

Randall het nog tot ’n maand gelede opgetree, maar het vroeg Desember al sy konserte gekanselleer.

Hy het ook onlangs ’n biografie, Kleur: My lewe, my lied, bekendgestel.

Randall word oorleef deur sy naaste familie, sy eksvrou en voormalige sangmaat Koba, en hul drie kinders, Pierre-Henri, Saskie en Kobá.

Bronne: Huisgenoot, Netwerk24, Maroela media

Boodskappe van medelye stroom op Twitter in: