Markte het onmiddellik gesteier ná die historiese referendum waarin 51,8 persent van die stemme ten gunste was van Brittanje se uittrede uit die EU, bekend as Brexit.

Die rand het sy grootste daling teenoor die Amerikaanse dollar getoon sedert 2008 en vanoggend gedaal tot R15,52 daarteenoor, terwyl die pond/dollar-wisselkoers op sy laagste is sedert 1985.

Suid-Afrika se verliese is tans meer as toe die voormalige minister van finansies Nhlanhla Nene in Desember verlede jaar afgedank is.

Die Sunday Tribune het Sondag berig die huidige minister van finansies, Pravin Gordhan, het gesê ’n uitslag ten gunste van Brexit gaan ’n ernstige effek op Suid-Afrika se ekonomie hê.

Kenners is dit eens dat dit groter nagevolge sal hê as wanneer Brittanje binne die EU sou bly.

Suid-Afrika sal glo ook die gevolge meer as ander Afrikalande voel. “Dit is omdat heelwat Suid-Afrikaanse maatskappye ook op die Londense aandelebeurs genoteer is en die rand meer vloeibaar en daarom kwesbaarder is vir direkte kapitaalvloei na buite,” het Peter Fabricius, ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), in ’n berig op die ISS se webtuiste gesê.

Intussen het Cameron ná sy bedanking in 10 Downing Street, sy kantoor in Londen, bekendgemaak dat hy teen Oktober vanjaar ’n plaasvervanger in sy plek aangestel wil hê.

Die premier het gesê hy sal in die weke en maande wat volg dinge vanuit sy posisie probeer beheer, maar dat “vars leierskap” nou nodig is.

Brittanje en die EU is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, en Brexit kan ’n erg nadelige impak op ons landbou-uitvoerbedryf hê. Volgens Netwerk24 kan die potensiële verlies vir Suid-Afrika se landbou-uitvoer tot R7,4 biljoen per jaar wees.

Dit is omdat enige bestaande handelsooreenkomste wat tussen Suid-Afrika en Brittanje kragtens die handels- en ontwikkelingsooreenkomste met die EU bestaan het, nou nie meer geldig gaan wees nie.

Suid-Afrika sal opnuut handelsooreenkomste met Brittanje moet sluit.

Politieke ontleders voorspel ook dat Brittanje se onttrekking aan die EU ook spanning kan veroorsaak tussen die oorblywende Europese lidlande. Dit kan dalk ook groter Russiese waagmoed aan Europa se oosgrens tot gevolg hê.

Hierdie video verduidelik die Brexit-breekspul in leketaal:

Bronne: telegraph.co.uk, fin24.com, issafrica.org, bbc.com,