Sy is eers met ’n stomp voorwerp, vermoedelik ’n krieketkolf, geslaan en toe met soveel geweld verwurg dat haar tongbeen gebreek het. Daarna is sy van naby met ’n pistool in die gesig geskiet.

Haar skedel en wangbene was versplinter en haar kakebeen was ontwrig. Volgens die patoloog dr. Arnold Mamashila, was Fatima se beserings so erg dat sy waarskynlik daaraan sou sterf nog voor sy in die gesig geskiet is.

Lees ook: Polokwane-sakeman terug in hof ná gru-moord op sy vrou

Ses dae later is haar man, Rameez Patel (28), in hegtenis geneem weens die moord. Hy het ten sterkste skuld ontken en gesê iemand het by hul woning ingebreek.

Dinsdag het die staat in die Polokwane rondgaande hof van die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria Rameez daarvan beskuldig dat hy ’n leuenaar is wat speletjies speel en probeer om die verloop van die saak te vertraag.

Die staatsaanklaer, Mashudu Mudau, het gesê Rameez se bewering dat hy aan emosionele spanning ly, is te betwyfel. Lees ook: Onverklaarbare merke aan vermoorde Polokwane-sakeman se vrou se nek Rameez se prokureur, Tumi Mokoena, het aangedui hy moet vir psigiatriese waarneming gestuur word en dat die saak voorlopig om daardie rede uitgestel moet word. “Dit word moeilik om met die beskuldigde te konsulteer; hy stort in duie en huil heeltyd,” het Tumi gesê.

Mashudu het teruggekap en gesê datums oor Rameez se bewegings wat deur Tumi aan die hof voorgelê het, verskil van dié wat deur die ondersoekbeampte voorgelê is.

Volgens Mashudu het Rameez aan die ondersoekbeamptes datums verskaf waarop hy glo gereis het. Dit was egter dieselfde dae waarop hy veronderstel was om met sy prokureur te konsulteer. “Dit kan nie waar wees dat mnr. Mokoena op 1 April in konsultasie met Patel was nie,” het hy aan die hof gesê. “Om 06:24 het hy ’n boodskap aan die ondersoekbeampte gestuur waarin hy gesê het hy gaan in Bela Bela wees.” Later, om 11:06, sou Rameez weer ’n boodskap stuur om die ondersoekbeampte in te lig dat hy op pad is na Johannesburg.

Inderwaarheid het Rameez tussen Senwabarana (Zebediela) en Johannesburg gereis, sowat 300 km van Polokwane.

“Dit is baie moeilik vir die hof om te weet of ons te doen het met ’n eerlike mens of een wat speletjies met die hof speel,” het Mashudu gesê. “Ek is nie ’n kenner of ’n sielkundige nie. Al die geskeduleerde afsprake het nie plaasgevind nie omdat die beskuldigde gereis het. “Mnr. Patel is nie eerlik met die hof nie.” Die staat het wel saamgestem dat Rameez aan psigiatriese waarneming onderwerp moet word. Dit sal moet gebeur terwyl hy in aanhouding is.

Die staat het versoek dat Rameez se borg teruggetrek word en dat hy in aanhouding geplaas moet word. “Daar sal nie onderbrekings wees nie en daar sal seker gemaak word hy is beskikbaar,” het Mashudu gesê.

Die verhoor is reeds drie keer uitgestel. Die eerste keer het gebeur toe Tumi ’n handbesering opgedoen het. Die tweede keer was toe een van Rameez se kinders siek was en die derde keer was in Januarie vanjaar toe Rameez nie vir Tumi kon betaal nie.

Rameez was in 2015 vir 48 dae in aanhouding voor sy aansoek om borgtog goedgekeur is. Hy is daarna op borgtog van R250 000 vrygelaat.

Bronne: news24.com, netwerk24.com, reviewonline.co.za