In ’n video op sy Facebook-blad vertel hy sy tyd in die hospitaal was rof. “Ek het amper die koets geklim (gesterf),” sê hy.

Rikus is op 27 Mei in die hospitaal opgeneem met wat hy ’n “buikpyntjie” noem. “Nou nie ’n chicken pie-met brandewyn-pyntjie nie. Dit was ’n serious buikpyn.”

Hy vertel hy het nog met ’n drup in die arm by die Silverstar Casino in Krugersdorp opgetree, maar toe hy van die “planke” af stap, “toe crash ek”.

Eers is bevind daar is fout met sy galblaas, en later het hy “volslae hart-, nier- en lewerversaking gehad en longontsteking”.

Rikus was langer as ’n maand in die hospitaal en is kort-kort geskuif van die waak- na die hoësorgeenheid en andersom.

Hy het onder meer ’n buikoperasie ondergaan en sy galblaas is verwyder. Hy het ook ’n virus opgedoen en was lank in afsondering.

“Ek kan nie lekker alles onthou nie. Jy weet hulle bliksem jou met morfien.

“Ek het geglo ek het Peet, my hiëna, al my kos gevoer wat ek nie geëet het nie.

“Toe die eerste toets tussen Suid-Afrika en Frankryk uitgesaai is, het ek die volkslied blykbaar kliphard gesing. Nie ons s’n nie; hulle s’n. Ek was nogal op tune. Ek het gebry wanneer ek moet. Alles was beautiful.”

Rikus, wat gister uit die hospitaal ontslaan is, het mense verskoning gevra vir die vertonings wat weens sy siekte gekanselleer moes word.

Hy het skoon emosioneel geraak toe hy sy aanhangers bedank vir hul steun. Volgens hom sal hy nog ’n paar weke by die huis moet bly om aan te sterk. Hy moet die meeste van die tyd in die bed wees.

“Ek sal nog ’n rukkie uit wees, boys. Nog ’n paar weke bedlêend en siek. Gee my so ’n bietjie. Ons is gou terug.”