Danksy ’n radikale vrugbaarheidstegniek kan vroue wat as gevolg van seldsame genetiese afwykings nie kanders kan hê nie eersdaags gesonde babas vry van dieselfde afwykings baar.

Vrugbaarheidsklinieke in Engeland het Donderdag wettig die groen lig gekry waarvolgens hulle aansoek kan doen om die behandeling toe te pas.

Die behandeling kom in kort daarop neer dat die vrou se eiers wat die defekte mitochondrion-DNS bevat met die gesonde DNS van ’n ander vroue-skenker vervang sal word.

Mitochondrion tree op soos ’n battery selle wat energie afskei. As dit nie reg werk nie, kan normale groei en ontwikkeling nie plaasvind nie.

Hierdeur word verhoed dat kinders aan verlammende toestande soos byvoorbeeld spierdistrofie sal ly.

Die navorsing loop egter ook onder fel kritiek deur.

Eerstens is daar die vrees dat vroue vir die behandeling sal gaan ten einde ’n "ontwerpersbaba" te kry. Dr. David King van die Human Genitcs Alert-groep sê die tegniek maak gebruik van gevaarlike en medies-onnodige tegnologie wat op alle kinders se toekoms ’n invloed kan hê.

Dan is daar ook die netelige kwessie dat die baba oor die DNS van drie mense sal beskik.

Lees ook: Die wêreld se eerste baba met DRIE ouers word gebore

Die Menslike Bevrugtings- en Embriologiegesag (HFEA) het aangdui dat die prosedure slegs goedgekeur sal word nadat alle ander moontlike opsies misluk het.

Sally Cheshire, voorsitting van HFEA, het dit as ’n geskiedkundige beslissing beskryf. "Dit beteken dat ouers wat ’n geweldige hoë risiko loop om ’n kind met ’n lewensbedreigende siekte te hê binnekort dalk die geleentheid sal kry om ’n kind te kry wat geneties gesond sal wees."

Maar die tegniek is nog nie perfek nie. Geringe hoeveelheid van die mitochondrion-siekte mag wel nog na die kind oorgedra word.

Prof. Doug Turnbull van die universiteit van Newcastle sê hulle mik om tot 25 versigtig-gekose vroue per jaar met die skenkings-DNS te behandel.

Robert Meadowcroft van Muscular Dystrophy UK het die tegniek meer as tien jaar gelede begin ontwikkel.

Hy ontken nie dat die tegniek bepaalde risiko's mag inhou nie, maar sê dat vroue deeglik ingelig sal word oor die prosedures sodat hulle ’n ingeligte besluit kan neem.

In sy reaksie op die nuus het hy gesê hulle ken talle vroue wat hartseer en tragedie in die gesig moes staar, ook die pyn van stilgeboortes, terwyl hulle met ’n gesin probeer begin het.

"Hierdie besluit gee hulle vir die eerste keer nuwe hoop en ’n keuse."

Engeland hoop op die eerste drie-ouerbaba voor die einde van 2017.

Bronne: sky.com, hfea.gov.uk, telegraph.co.uk, musculardystrophy.co.uk