Dokters het die halfgevormde baba – kompleet met ’n brein, arm en bene, agter die gesonde pasgebore baba se maag opgemerk.

Hulle het die sewe sentimeter massa, ’n seldsame geval genaamd fetus in fetu, suksesvol verwyder.

Fetus in fetu kom voor wanneer ’n misvormde parasitiese tweeling in die liggaam van ’n lewende kind gevind word. Dit is een van sowat 200 gevalle wat al in die wêreld aangeteken is.

Dit gaan goed met die 19-jarige ma en haar seun, van Mumbra in Thane, Indië, ná die operasie.

Hierdie gevalle kan soms tot die “gasheer” tweeling se dood lei omdat albei vanaf dieselfde plasenta gevoer moet word, sê die ginekoloog, dr. Neena Nichlani.

“Dis ’n geval waar een fetus homself om die ander draai en die gasheer van sy voeding ontneem.”

Dr. Bhavna Thorat, ’n radioloog, het ’n abnormaliteit tydens ’n roetine-skandering vroeg in Julie by die hospitaal in Mumbra opgemerk. Maar eers toe die baba dae later op 20 Julie gebore is, het hy “nog ’n klein baba” binne die pasgebore baba se maag opgemerk.

“Ek kon die fetus se boonste en onderste ledemate se bene sien. Wat dit uniek maak, is dat ek ’n klein koppie met die brein binne kon sien. Die parasitiese tweeling het egter nie ’n skedelbeen gehad nie.” 

Die baba is na die Titan-hospitaal in Thane geneem vir ’n operasie om die 150g massa te verwyder. Dr. Nichlani sê dit gaan goed met die baba en die ma sal hom binnekort begin voed.

Bronne: Metro UK, Daily Mail UKThe Sun