Het jy al by ’n vertrek ingestap en jou kleuter se kreatiewe streep aan jou mure, vloer of meubels gesien? Kenners sê dis ’n belangrike kinderfase en dis belangrik dat jy geleenthede skep sodat hulle uiting aan hul kunstigheid kan gee. Kunshandwerk sal ook hul motoriese vaardighede help versterk en hul selfbeeld ’n hupstoot gee. “Kreatiewe speeltyd is ook belangrik om ’n kind se sosiale interaksie en probleemoplossingsvermoë te ontwikkel,” sê Sherri Taljaard, wat die Scalliwags-speelgroepie in Rivonia bestuur. Ruim tyd in en raak lekker morsig saam met jou kind; hier is ons top-10 idees.

Maak ’n plakskildery  

Vat ou tydskrifte en maak ’n plakskildery deur prentjies volgens die tema van jou keuse uit te knip en dit op ’n wit of kleurryke blad te plak. Kies ’n tema waarin jou kleinding belangstel, soos motors of perde. Moenie dit te veel beheer nie en laat hulle geskeurde prentjies gebruik en self die gom gebruik terwyl jy ’n ogie hou en hulle lei.

Maak ’n mooi halssnoer

Maak ’n halssnoer van pastaskulpies. Gebruik ’n stringetjie wol en ryg dit deur die skulpe. Julle kan ook die pasta in lekker helder kleure verf voor of nadat dit geryg is.

Maak gesiggies

Maak portrette deur enige material wat in die huis rondlê, op ’n groot stuk papier te plak. Trek eers ’n ovaalvormige vorm op die papier en gebruik dan die materiaal om gelaatstrekke soos die oë, neus en mond te vorm. Plastiekbottels se doppies kan vir die neus gebruik word, knope vir die oë en stukke wol vir die hare. Laat jou kind in beheer wees van die projek en lag saam oor lawwe idees.

Koel patrone

Verf ’n prentjie met jou kind se speelgoedmotors. Doop die wiele in verf en ry dan daarmee oor die blad. Die motor se bande gaan koel patrone maak en jou kleinding gaan groot genot daaruit put.

Maak ’n mosaïek

Gebruik ou knope (jy sou dit waarskynlik in elk geval weggegooi het) om ’n mosaïek-kunswerk op ’n stuk karton te maak. Teken ’n prentjie van iets waarvan jou kind hou, of sommer die lug en gras as jy dit eenvoudig wil hou, en plak veelkleurige knope op die prentjie. Dié speletjie help met die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede.

Maak lawwe vorms

Herwin roomysstokkies of koop Velcro-stokkies om vreemde en wonderlike vormpies mee te maak. Verf die stokkies en laat jou kind dit met Prestik aanmekaarsit om vormpies te maak. Dit kan dan op karton vasgegom en in hul galery uitgestal word.

Maak aartappel-afdrukke

Jy kan ’n aartappel of spons hiervoor gebruik. Sny die aartappel in die helfte en sny ’n vorm uit op die plat oppervlak. Doop dit in verskillende kleure verf en maak afdrukke daarvan op ’n groot stuk papier. Jy kan met die speletjie vir jou kind die kombinasies van verskillende kleure wys soos blou en rooi wat nuwe kleure soos pers maak.

’n Sak vol emosies

Maak papiersakke vol ou koerante en maak elke sak met ’n rekkie was. Teken dan verskillende gesigte op die sakke en praat met jou kind oor die emosies wat met elke gesig gepaardgaan. Gebruik dit as ’n geleentheid om byvoorbeeld oor hartseer te praat. Sê: “Dié gesiggie lyk hartseer. ’n Mens mag maar soms hartseer voel. Ek voel dalk hartseer, omdat . . . ” en laat hulle dan saamspeel met hul eie voorbeelde.

Glinster-oerwoud

Kies verskillende blare uit die tuin en trek hul buitelyne op ’n blad met ’n potlood of merker. Wend dan gom binne in die prentjie aan en bestrooi met glinsterstof om die vorm van die blaar te maak. Dit kan in verskillende groottes, vorms en kleure gedoen word om ’n glinsterende oerwoud te vorm.

Raak kreatief met herwinning

Gebruik leë toiletrolletjies om verskillende vorms te maak deur die punt van die rolletjie in verskillende vorms te druk. Doop dan die punt in verskillende kleure verf en gebruik dit om vormpies op ’n groot stuk papier af te druk. Kyk of jy voorwerpe soos ’n motor of boom met die vormpies kan maak.

-Katlego Mkhwanazi

Bronne: Parents.com, Handsonaswegrow.com