Christopher Rivas (23) en sy vriend het die liggaam van die 59-jarige Manfred Bajorat op sy boot gekry waar dit versteen naby die radio sit.

Christopher het vertel hulle het die boot sowat 60 km vanaf die kus gewaar en kon van ver af sien die seil is gebreek.

Die seiljag, waarvan die naam SAYO was, het die laaste 20 jaar al om die wêreld geseil. Binne die kajuit is verskeie persoonlike items van Manfred, insluitend fotoalbums, klere en blikkieskos, gevind.

Dit is onduidelik presies hoe lank Manfred al dood is. Hy is geïdentifiseer te danke aan papierwerk wat aanboord gevind is. Die oorsaak van sy dood is ook nog onbekend.

Volgens party bronne het ’n vriend van Manfred aan die Duitse koerant BILD gesê hy het ’n jaar laas van hom gehoor.

Die droeë, souterige seelug en hoë temperature het heel waarskynlik gehelp dat sy liggaam feitlik heeltemal bewaar is.

Sy oorskot is intussen na ’n lykshuis in Butuan geneem waar ’n lykskouing uitgevoer gaan word.

’n Polisiewoordvoerer, Goldie Lou, het gesê “geen bewyse van ’n tweede persoon kon aanboord gevind word nie en geen wapen kon opgespoor word nie”.

Die moontlikheid van ’n hartaanval word ondersoek.

Nog tergende, onopgeloste raaisels van die see:

Die geheimsinnige dood en bewaring van Manfred is vanselfsprekend nie al raaisel wat die see al opgediep het nie.

Daar is natuurlik die bekende legende van Die Vlieënde Hollander, ’n skip wat verdoem is daartoe om nooit ’n veilige hawe te haal nie.

Daar was verskeie mense wat in die 19de en 20ste eeu na bewering die spookskip gewaar het. Onder hulle was prins George van Wallis, toekomstige koning George V wat dit glo in die vroeë oggendure van 11 Julie 1881 sy ervaring met die Vlieënde Hollander neergepen het.

Hy het ook beweer dat 13 ander mense ook die verdoemde boot gewaar het.

Die oënskynlik verlate Mary Celeste is in 1872 in die Atlantiese Oseaan gevind. Die vrag, waardevolle items en ses maande se voorraad aan boord was onaangeraak, maar die bemanning en passassiers was skoonveld.

Carroll A. Deering, ’n skoener met vyf maste, het in Noord-Carolina gestrand. Die bemanning, hul besittings en reddingsbote was nêrens te bespeur nie. Rum-smokkelaars kon dalk die vaartuig gekaap het.

’n Egiptiese maaltyd, halfpad geëet, Franse kaarte van die Noord-Afrikaanse oseane, ’n hoop klere is in 2006 aan boord van ’n skoener gevind. Aanvanklik het die ontwerp van die Bel Amica kenners laat glo dis ’n antieke boot, maar dit was inderwaarheid ’n moderne boot.

Vermoedelik wou die eienaar dit net nie registreer nie om belasting te ontduik.

High Aim 6, ’n Taiwanese skip is in 2003 aan die Australiese kus gevind. Persoonlike besittings van die bemanning is aan boord gevind maar ’n soektog van 7 300 seemyl het niks opgelewer nie. Ná tien dae was daar nog steeds oproepe van die vermiste skeepsingenieur se selfoon.

Slegs een bemanningslid is opgespoor en hy het beweer die kaptein en enginieur is vermoor. Geen rede is ooit verskaf nie.

Drie manne het aan boord van Kaz II ’n lang reis langs die Australiese kus onderneem. Drie dae later is die boot drywend naby die Great Barrier-rif gevind. Alles perfek in plek. Kos op die tafel, skootrekenaar oopgevou en aangeskakel en reddingsbaadjies netjies opgehang.

Bronne: dailymail; weburbanist.com, wikipedia.com, oddee.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Zephany Nurse se grootmaak-ma het gedink ‘haar mamma wil haar nie hê nie’

Grootmaak-ma getuig in hof: So het ek Zephany gekry

‘Liefdesdriehoek’ eindig tragies

Die lelikste en mooiste: Oscar-rokke wat wenkbroue lig

Verbygaande verpleegster red man ná weerlig hom tref

10 skreeusnaakse reaksies op Leo se Oscar-glorie

Leonardo DiCaprio se Oscar-droom word uiteindelik waar