’n Raaiselagtige virus is besig om ’n man van Viëtnam se gesig stadig weg te vreet.

Topmedici in Saigon (ook bekend as Ho Chi Minh-stad) in Viëtnam krap nog kop oor presies watter virus Hoejnh Van Dat (51) onder lede het.

Dat kan nie meer behoorlik eet of praat nie, maar sy brein makeer niks. Hy is goed bewus van die lyding wat hy die laaste 12 jaar ervaar het.

Sy vrou, Hoejnh Thi Trieoe, sê haar man se siekte het in 2004 begin toe sy neus tot vier keer per dag gebloei het.

“Hy het tradisionele medisyne gebruik, maar dit het geen verskil gemaak nie, en toe het hy ook probleme met sy oë begin ervaar,” het sy gesê.

Dat het naderhand hospitaal toe gegaan, waar dokters verkeerdelik gemeen het hy het ’n gesplete neusholte.

’n Jaar later het Dat agtergekom wanneer hy water drink, loop dit deur sy verhemelte tot in sy neus. Oor die daaropvolgende paar maande het die opening in sy verhemelte net groter en groter geword.

Hy is weer vir ’n gebreekte neusbrug behandel, maar dit het nog nie die probleem opgelos nie.

Dat kon nie nog operasies bekostig nie, maar nadat die plaaslike media oor sy seldsame toestand berig het, het van die land se beste mediese personeel ingestem om hom te help.

Die probleem is nou om presies uit te pluis watter virus Dat onder lede het en hoe om dit te keer. Dit is ook onduidelik of hulle sy gesig sal kan herbou nadat die virus soveel daarvan weggevreet het.

WAARSKUWING: Beeldmateriaal van die man se gesig mag ontstellend wees. Ons het doelbewus gekies om dit nie in die artikel in te sluit nie.

Bronne: news.com.au.; Daily Mail