Die lyk van John Pearse van Craighall Park in Johannesburg is naby die Pecanwood-landgoed by die Hartbeespoortdam gevind, berig die Kormorant, die Hartbeespoort-gemeenskapskoerant. Die Pearse-familie besit glo ’n vakansiehuis daar.

Helen Schlebusch, John se skoonsuster, het die nuus dat sy oorskot gevind is, op Facebook gedeel.

Sy skryf dit was ’n lang 15 maande waartydens onophoudelik na John, onder sy geliefdes bekend as Jancsi, se oorskot gesoek is.

Na wat berig word het stappers verlede Donderdag op sy oorskot afgekom. Hy het op 29 Augustus verlede jaar omstreeks negeuur die oggend sy huis in Craighall Park in sy wit Toyota Yaris verlaat. Sy vrou, Ann Harsant, en twee jong kinders het hom nog die oggend gegroet. Hy het nie sy selfoon saamgeneem nie.

Sy verlate motor is later in Hartbeespoort gevind.

Toe Huisgenoot vir Ann bel, het sy net gesê sy wil nie kommentaar lewer nie. Volgens ’n familievriend aanvaar sy haar man se dood moeilik. “Hulle was baie lief vir mekaar. Sy het altyd bly hoop dat hy weer sy verskyning sou maak,” sê die vriend.

John se pa, Frank, het volgens die Kormorant in 2004 ook in die Magaliesberge verdwyn.

Dis nog nie bekend wat die oorsaak van John se dood was nie.