Die Troadec-gesin van Nantes, Frankryk, het in Februarie spoorloos verdwyn en net ’n bloedspoor in hul huis agtergelaat. Maar Woensdag is van hul liggaamsdele gevind.

Aanvanklik is daar wild en wakker gegis dat die seun, Sébastien (21), dalk antwoorde sou kon verskaf op vrae oor die gesin se lot.

Sébastien se vermiste Peugot 308 is na die verdwyning van die gesin in die noordwestelike hawe van St Nazaire gevind. Toe kry ’n drawwer op 1 Maart Charlotte se nasionale gesondheidskaart in ’n langbroek se sak in Dirinon, sowat 280 km van Nantes.  

Sebastien was toe nog bo-aan die polisie se lys van moontlike verdagtes.  

Maar nou het dit aan die lig gekom dat al vier gesinslede vermoor is, Sébastien inkluis. Die skuldige? Hubert Caouissin, Pascal Troadec (49) se gewese swaer. Hubert was voorheen getroud met Pascal se suster, Lydie. Rondom 6 Maart het die polisie die twee in hegtenis geneem. Hulle was toe reeds voorheen deur die polisie ondervra oor die gesin se verdwyning.  

Hy het na bewering die gesin, bestaande uit Pascal, sy vrou, Brigitte (49), hul twee kinders, Sébastien en Charlotte (18), met ’n koevoet in hul huis doodgeslaan. Hubert het Woensdag vir die polisie gewys waar hy van die gesin se oorblyfsels begrawe het.  

Dit het glo gevolg na ’n rusie oor ’n erfporsie van goudstawe wat na bewering jare gelede deur Pascal se pa gevind is. Hubert se ma het egter die bestaan van die goudstawe intussen as bog afgemaak.  

Maar die manier waarop Hubert te werk gegaan het om die beweerde goudstawe in die hande te kry, is genoeg om enigeen koue rilllings te gee.

Hy het glo op 16 Februarie ’n stetoskoop gebruik om die gesin tuis deur die vensters af te luister. Later dieselfde nag het hy by die huis ingebreek. Maar Pascal het wakkergeskrik en hom betrap, waarna ’n geveg tussen die twee ontstaan het.

Pascal is eerste doodgemaak en daarna sy gesin.

Hubert het hul lyke in stukke opgekap, van die liggaamsdele verbrand en ander begrawe. Die oorblyfsels is op ’n afgeleë deel op ’n plaas naby de Pont-de-Buis-les-Quimerch gevind nadat Hubert die polisie daarvan vertel het. Hier is ’n voorstelling van hoe die moorde sou plaasvind.  

Hubert en Lydie is verlede week in hegtenis geneem. Hubert het glo geen vorige kriminele oortredings begaan nie, maar dié grudaad kan hom dalk lewenslank agter tralies laat beland.

In hierdie stadium is die rol wat Lydie in die grusame verhaal gespeel het nog onduidelik. Sy word daarvan beskuldig dat sy die voertuig help skoonmaak het waarin die lyke vervoer is.

Bronne: bbc.com, thejournal.ie, theguardian.com