[caption id="attachment_161164" align="alignnone" width="600"]Onderskrif hier. Foto's Verskaf Ali, Asil en Shams Samara se verdwyning laat wetstoepassers kopkrap. Foto's Verskaf[/caption]

Shams Kara Samara (16) en haar broers, Ali (14) en Asil (13) se pa het hulle na bewering die oggend van Vrydag 17 Februarie die laaste keer gesien toe hy hulle by die skool afgelaai het. Die moontlikheid bestaan dat hulle dalk nie meer in Suid-Afrika is nie.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, plaaslike polisiewoordvoerder, het die pa, Raed Alqarra, later die oggend toe hy hulle weer wou gaan oplaai het uitgevind die kinders het ook nooit die dag enige klasse bygewoon nie.

Stephen sê die kinders bly by hul pa, terwyl hul ma in Israel woon.

Volgens Stephen het die ma het op 30 Desember 2016 die pa aan Interpol gerapporteer en beweer hy mishandel hulle. Stephen vertel daar het egter geen waarheid hierin gesteek nie.

“Die polisie het ’n deeglike ondersoek gedoen, maar dit het geblyk die bewerings teen die pa is onwaar.”

Johan Slabbert, skoolhoof, het aan Huisgenoot gesê hulle is heeltemal in die duister gelaat. Hy het bevestig Shams en Ali is albei in graad 9 en Asil in graad 8.

“Ons weet net die kinders se registrasieonderwysers het hulle die dag as afwesig gemerk. Ons het die skool se kringtelevisiekameras gefynkam of daar nie dalk ’n fout gemaak is en hulle wel by die skool was nie. Maar daar was geen teken van die kinders by die skool nie.”

Hy vertel hulle het ’n beroep op die kinders gedoen om inligting te verskaf of hulle die sibbe dalk die oggend voor skool sou gesien het waar hul pa hulle glo afgelaai het, maar dit het ook op ’n doodloopstraat uitgeloop. Johan se slegs 36 uit die 893 kinders is Moslem en hy weet nie of die kinders dalk doelbewus nie wil praat nie. Hy meen dit is ’n baie “snaakse” situasie.

“Ons het nog niks verder gehoor nie soos oor of daar ’n losprys gevra is of wat kon gebeur het nie. Die polisie was hier en ons help waar ons kan.”

Stephen vertel die omstandighede rondom die kinders se verdwyning is nog baie “vaag”.

Johan sê hulle het nog geen kontak met die kinders se ouers kon maak nie.

Stephen sê die kinders se pa wil nie met die media oor die aangeleentheid praat nie.