Haar raaiselagtige dood kort nadat sy in Kaapstad verloof geraak het, laat almal wonder: wat het met Majella Donoghue gebeur?

Dié 30-jarige vrou en haar verloofde, Barry Doherty, het tydens ’n onlangse droomvakansie in Suid-Afrika verloof geraak. Maar tydens hul vlug terug huis toe, het Majella skielik begin siek voel en kort daarna in die hospitaal gesterf. Dit wil voorkom asof 'n bloedklont op haar longe haar lewe kortgeknip het, maar dis nog geensins bevestig nie.

Die paartjie het volgens ’n inskrywing op Barry se Facebookblad vreeslik uitgesien na hul Kaapse draai, waar hulle onder meer ook by Majella se peetouers gaan kuier het.

Die gryskop het blykbaar geweet hy sou tydens dié spesiale vakansie die vrou van sy drome die ja-woord vra. Om die oomblik nog meer besonders te maak, het hy spesiaal ’n ring in Kaapstad met die hand laat maak.

Lees ook: Sewejarige se hartverskeurende briefie aan vriende dae voor hy aan seldsame siekte sterf

Tydens hul besoek het Barry en Majella, oorspronklik van Ierland, verskeie foto’s van hul avonture gedeel.

In een gelukkige foto geniet die paartjie ontbyt in Kampsbaai.

Maar dié geluk was van korte duur. Tydens hul vlug terug Londen toe het alles begin skeefloop.

Volgens The Mirror het Barry en die kajuitpersoneel Majella probeer bystaan toe sy skielik siek word. Maar toe die vliegtuig Sondag in Londen land, was Majella se toestand kritiek.

’n Ambulans het op die lughawe gewag en met haar na die naaste hospitaal gejaag. ’n Familielid het uit Ierland gevlieg om die paartjie by te staan, maar Majella is ongelukkig kort daarna in die hospitaal oorlede.

Lees ook: Tragiese nuus enkele dae ná Kaapse paartjie in hospitaal trou

“Ons laaste foto saam, sy was so gelukkig,” het ’n bewoë Barry daarna op Facebook geskryf.

Majella, wat by die vervaardigingsmaatskappy Boston Scientific gewerk het, was glo ’n invloedryke mens en het ’n groot impak in ander se lewens gemaak.

Die paartjie se priester, John Loftus, het aan die Irish Mirror gesê die gemeenskap rou na haar dood. Volgens hom was Majella “aangenaam, bedagsaam en vriendelik”.

“Net om haar te ontmoet het jou gemoed gelig,” sê John.

Majella was nie net betrokke by liefdadigheidswerk in haar gemeenskap nie, sy het ook ’n tyd lank in Viëtnam liefdadigheiswerk gedoen.

’n Nadoodse ondersoek is ook uitgevoer.

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk