Dit blyk of ’n man se dood op ’n gewilde staproete op Tafelberg die afgelope naweek ’n ongeluk en nie moord was soos aanvanklik wydberig is nie, al was die man se keel van "oor tot oor" afgesny.

[caption id="attachment_116408" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Dit volg nadat ’n drawwer Sondag aan die Cape Argus gesê het hy’t op die lewelose liggaam van ’n man op die Pipe Track afgekom. Die man, wat anoniem wou bly, het gesê die man se keel is glo “van oor tot oor” afgesny.

Hy’t vertel hy het by Kasteelspoort afgehardloop toe hy ’n “bloedspoor” gewaar en sien hoe die polisie die liggaam bedek.

Lees ook: Bestuurder maai “opsetlik” 17 kangaroes af

Die omstandighede rondom die 57-jarige man se dood in Kasteelspoort word nog ondersoek en ’n geregtelike doodsdossier is vir hierdie doel geopen, het lt. kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, Maandag aan News24 gesê.

“Voorlopige ondersoeke op die toneel het daarop gedui dat die man ’n slagoffer van misdaad was en dat hy ’n steekwond opgedoen het, maar ná deeglike ondersoek is ontdek hy het ’n noodlottige wond opgedoen toe hy geval het,” sê André.

News24 het in Junie verlede jaar berig die sekuriteit op die berg is verskerp danksy samewerking tussen die Tafelberg-veiligheidsforum, die Suid-Afrikaanse polisiediens en die Stad Kaapstad se metropolisie.

Lees ook: Gevalle van breinvliesontsteking in Mosselbaai styg tot 33

“Die veiligheidsforum het gehelp om die inhegtenisneming van twee verdagtes agter die berowing van twee studente van die Universiteit van Kaapstad in November te bewerkstellig,” het die koöperatiewe forum gesê.

Die man se identiteit is nog nie bekendgemaak nie.

Bron: News24