Sers. Michael van der Watt (35), verbonde aan die Motherwell taktiese reaksie-eenheid en ’n kranige fietsryer, se vrou het hom Sondagaand laas gesien.

Sedert Maandagoggend is daar geen teken van hom nie en teen teen Dinsdag was daar nog geen nuus oor waar hy hom bevind nie.

Volgens kol. Priscilla Naidoo, polisiewoordvoerder, het ’n kollega hom ná hul nagskof Sondag by sy huis afgelaai. Van die bure beweer hulle het Maandagoggend (Werkersdag) iemand geklee in fietsryklere die gesin se huis sien verlaat.

Michael se selfoon en ander persoonlike items is by die huis gelos. Maar van Michael en sy geel Trek 2300-fiets was laat Dinsdagmiddag nog geen spoor nie.

Lede van die honde-eenheid en die polisie se lugvleuel het Maandag ’n uitgebreide soektog na hom van stapel gestuur. Die soektog is Maandagaand tydelik opgeskort en Dinsdag hervat.

Dinsdag het die soektog veral gefokus op fietsryroeters by Draaifontein, Seaview, Schoenmakerskop en Greenbushes.

Enigiemand wat inligting het, word versoek om die Kabegapark-polisiekantoor by 041-397-6801/02 te bel.

Michael is getroud en het ’n babaseuntjie.

Bronne: heraldlive.co.za, saps.gov.za