Die lyk van ’n Stellenbosse student is onlangs in ’n gesluite hoëveiligheidswoonstel op die vierde verdieping van ’n woonstelblok in Seepunt gevind, het haar familie se regsverteenwoordiger Maandag aan News24 gesê.

Robyn Pearce is langer as ’n week gelede vermoor.

Terwyl talle messe in die woonstel gevind is, blyk dit die wapen waarmee Robyn (20) in die maag gesteek is, is van die toneel verwyder, het adv. William Booth gesê.

Verskeie items is uit die blyplek verwyder.

“Hulle (die moordenaar of moordenaars) kon aan die deur geklop en Robyn kon oopgemaak het, maar dit beteken hulle moes verby sekuriteit en kameras gekom het,” het hy gesê.

Robyn se familie het William, ’n bekende strafregkenner wat die afgelope paar jaar onder andere mense verteenwoordig het wat by  hoëprofielmoordsake betrokke was, aangestel om die polisie met die moordondersoek te help en die familie raad te gee.

’n Vriend het Robyn se lyk op Vrydag 2 Desember in haar ma se woonstel gekry. Die dag tevore het haar ma verskeie van haar vriende gebel om haar te probeer opspoor.

Lees ook: Familie ‘steeds getraumatiseerd’ ná Matie se moord

“Die polisie ondersoek beslis die diefstal uit die woonstel,” het William gesê.

Geen van die gesteelde items is teruggevind nie en niemand is nog in hegtenis geneeem nie. William kon nie bevestig wat alles voete gekry het nie.

Hy was besorg oor hoe die verdagte(s) by die woonstel ingekom het.

Toe Robyn se lyk gevind is, was die woonstel gesluit en geen vensters was glo gebreek nie. William het gesê toegang is dalk deur ’n oop venster verkry, maar bevraagteken of dit moontlik was.

“Dit is vreemd, want die woonstel is op die vierde verdieping. Dit laat ontstaan vrae oor hoe die verdagte(s) toegang verkry het.”

“Een, twee, drie of selfs ’n hele groep kon die moord gepleeg het. Ons is nie heeltemal seker nie,” het William gesê.

DNS-monsters en vingerafdrukke is op die toneel geneem. Dit lyk nie of Robyn voor haar dood onsedelik aangerand is nie, maar William sê ’n nadoodse ondersoek sal dit bevestig.

“Dit is baie hartseer. Dit is baie tragies dat hierdie moord plaasgevind het. Robyn was ’n baie geliefde mens,” het Willam gesê.

Bron: News24