Dit blyk dat die motor in die veld langs die pad tot stilstand gekom het weens die ongeluk. Die vrou het oënskynlik uit die motor geklim en oor die brugreling geklim om ’n draai te loop toe sy 10?m ver geval het. Bobby Hale, die bestuurder van die insleepvoertuig op die toneel, het die ongeluk as hartverskeurend beskryf.
'Twee vroue het met hul motor teen die sypaadjie vasgery en uitgeklim, en albei was ongedeerd.'

“Twee vroue het met hul motor teen die sypaadjie vasgery en uitgeklim, en albei was ongedeerd. Die een het in ’n insleepvoertuig gaan sit en die ander een het rondgestap en ’n sigaret gerook. Sy het gesê sy het ’n nood en moet ’n draai gaan stap,” het Hale gesê.

“Ek het voorgestel dat sy agter die motor sit, maar die volgende oomblik het ons gesien hoe sy oor die brugreling klim.

“Een van die motorbestuurders op die toneel het na haar gegryp en haar trui beetgekry, maar dit was nie genoeg nie. Sy het net geval. Dit was een van die aakligste goed wat ek ooit aanskou het,” het Hale, ’n gewese brandweerman, gesê.

Volgens ’n woordvoerder van Netcare 911, Santi Steinmann, is die vrou se lyk aan die voet van die brug gekry.

“Sy het onder die brug, naby die treinspoor, gelê. Met hul aankoms en ondersoek het paramediese personeel gesê sy het reeds voor hul aankoms gesterf. Sy is op die toneel dood verklaar,” het Steinmann bygevoeg.

Die polisie moet nog die vrou se identiteit bekend maak.

Bron: ?News?24